Lees Jeremia 29:1-23 <- Klik om nou te lees Teks: vers 4 As ek deur die Here geleer is van ware voorspoed, kry ek wysheid. Inleiding: Die situasie in ons land dwing ons om ons met groot erns voor die Here te verootmoedig. Skerp vrae wat ons nou onder andere moet vra is: “Waarom duur die agteruitgang in ons land voort?” “Straf die Here ons as gelowiges, deur alles wat nou verkeerd loop?” en “Waartoe wil die Here ons met die gebeure in ons land lei?” Die ballinge aan wie Jeremia skryf, het met soortgelyke vrae geworstel. In hulle geledere was daar profete wat allerlei valse verwagtings by die ballinge opgewek het. Daar was in daardie tyd ʼn onstabiliteit in Nebukadneser se heerskappy en die vals profete het beweer dat die tyd van verlossing aangebreek het. Dit het die ballinge erg verwar en onseker gemaak oor wat hulle moet glo en wat hulle te doen staan. Uit die brief wat Jeremia aan hulle skryf, is dit duidelik hoe belangrik dit is dat gelowiges in sulke omstandighede deur die Here geleer word wat ware voorspoed is. Luister as die Here jou leer van ware voorspoed. Vir die vals profete tussen die ballinge was voorspoed alleen geleë in die verbreking van Nebukadneser se mag en die terugkeer van die volk na hulle land. Jeremia maak dit duidelik dat die ballinge nog vir geslagte (vgl. v. 5) in ballingskap sal wees. Sou dit wees omdat die Here sy volk verwerp het? Die brief bevestig dat God hier in die vreemde vir hulle op ʼn besondere manier sorg. Hy lei hulle tot ʼn dieper begrip van hulle verhouding met God. Hulle leer van ware berou oor hulle hardnekkige sondes van die verlede. Hulle leer dat die verhouding met God oor meer gaan as oor die belangrike seremonies wat hulle in hulle eie land kon volvoer. Hulle leer dat God nie mense wat aan Hom behoort net in ʼn bepaalde gebied versorg nie, maar dat hy ook vir hulle hier in die vreemde sorg. Die vraag vir die ballinge was nie eerstens of die Here hulle binne twee jaar gaan terug neem na hulle land en of hulle nog vir geslagte daar gaan woon nie. Die vraag was eerstens of hulle hoor as die Here hulle leer wat ware voorspoed is. Laat ons met ons spesifieke omstandighede hier in Suid-Afrika leer wat ware voorspoed is. Wie deur die Here geleer is van ware voorspoed, leef: • nie rustig voort in ʼn oppervlakkige of kunsmatige verhouding met die Here nie, • in elke omstandigheid binne die Here se sorg, • op ʼn besondere manier saam met die ongelowiges en • met die sekere verwagting dat volkome voorspoed op die tyd wat die Here bepaal het, sal aanbreek.