Skip to content
Menu

Lees Markus 16:9-20 <- Klik om nou te lees Teks: vers 19 My Verlosser is deur die Vader beloon en ek deel in die beloning. My Verlosser is deur die Vader beloon. Markus sê nie dat Jesus opgevaar het nie, maar stel in die passiewe vorm dat Jesus Christus “opgeneem is.” Die Vader het Hom opgeneem. Daarmee stel hy ʼn belangrike element van die hemelvaart op die voorgrond. Christus het sy Vader volkome gehoorsaam en word nou deur sy Vader beloon. Markus beskryf ook hierdie beloning in fyner besonderhede: Jesus Christus het gaan sit aan die regterhand van God. Hy ontvang dus van sy Vader alle mag in die hemel en die aarde. Dink so daaraan: Hy wat ons Verlosser is, is deur die Vader beloon. Hy wat in gehoorsaamheid aan sy Vader sy lewe vir ons gegee het, het nou alle mag. Ek deel in sy beloning – in hierdie bedeling maar ook in die bedeling hierna. Hulle wat deur Jesus Christus verlos is, deel in sy beloning. Hulle deel reeds in hierdie bedeling in sy beloning, maar ook in die bedeling wat kom. Ek deel reeds in hierdie bedeling in sy beloning. In die werk van volgeling word Jesus Christus se beloning sigbaar. •Dit word oral op aarde sigbaar (vgl. “oral” in v. 20). •Dit word in alle aspekte sigbaar (vgl. 17-18). •Dit word in besonder deur die evangelie sigbaar (vgl. v. 20) Ek deel ook in die bedeling hierna in sy beloning. Dit is inderdaad so dat gelowiges reeds in hierdie bedeling die ewige lewe het. Markus beklemtoon egter iets wat wel nog in die toekoms moet gebeur, naamlik die eindoordeel. By die eindoordeel sal die hoogste Regter sekere mense “veroordeel” (vgl. v. 16) en ander sal uit hierdie veroordeling “gered” word (vgl. v. 16). Hulle wat in Christus geglo het, sal gered word. Hulle sal op grond van hulle Here se verdienste vrygespreek word. Hulle deel in die bedeling wat kom in sy beloning.