Lees Efesiërs 4:25-31 <- Klik om nou te lees Teks: vers 30 Die Heilige van God met Wie ons verseël is, werk heiligheid in ons verhoudings. Inleiding: Een oomblik praat Paulus nog oor gelowiges se verhoudings (vgl. v. 25-29) en dan skielik bring hy die Heilige Gees ter sprake (v. 30). Daarna skryf hy weer verder oor die onderlinge verhoudings van gelowiges (vgl. v. 31-32). Dit wat Paulus oor die Gees sê, staan egter glad nie los van dit wat hy oor verhoudings skryf nie. Juis omdat God sy Gees uitgestort het en elke gelowige met die Gees verseël, sal daar ʼn verskil kom in gelowiges se verhoudings. Die Een wat gekom het en aan my gegee is, is van God en is die Heilige. Die Gees sal ʼn spesifieke soort verskil maak. Paulus noem uitdruklik twee belangrike dinge van die Gees. Hy noem Hom eerstens die Heilige. Die Heilige Gees wat met Pinkster uitgestort is, is volmaak heilig. In Hom is geen sonde, kwaad, geen onheiligheid nie. Daarom, waar Hy woon, kom daar heiligheid. Tweedens sê Paulus ook uitdruklik dat Hy die Gees van God is. Hy is deur God Self gestuur. Dit is dié God wat reeds ʼn onbeskryflike verandering bewerk het. Hy het mense in wie Hy nie kon woon nie, “inwoonbaar” gemaak. Hy het eers sy Kind gestuur. Hierdie Kind het onder hulle sondelas ingekom, in hulle plek die oordeel oor hulle sonde gedra en hulle gereinig sodat die heilige God in hulle kan woon. Wanneer die God wat hierdie verandering bewerk het, se Gees in iemand kom woon, is ʼn voortleef in onheiligheid nie moontlik nie. Met die Heilige van God is ek verseël. Die Heilige Gees kom woon nie net in die gelowige nie, Hy verseël die gelowige. Om deur Hom verseël te wees, beteken eerstens dat Hy die gelowige beskerm teen inmenging – Hy voorkom dat die gelowige van God af weggevoer word. Tweedens beteken sy verseëling dat die gelowige as God se eiendom gestempel is. Gelowiges dra die karakter van hulle Eienaar. Tot die dag van verlossing, die dag van die wederkoms, sal gelowiges nie van God af weggevoer word nie en sal hulle die karakter van hulle Eienaar dra. Die Heilige werk heiligheid in ons verhoudings met mekaar. Die verandering wat plaasvind wanneer die Heilige in ons kom woon, spits Paulus toe op gelowiges se verhoudings met mekaar. Hy beklemtoon veral hoe ons met mekaar praat. Dit is in besonder met ons tong wat ons die Heilige Gees bedroef en dit is ook juis ons tong wat verraai of ons onder die invloed van die Gees leef. Wat kom uit my mond? i) Vuil taal of taal wat my hoorders ten goede strek? (v. 29); ii) woorde vol bitterheid en woede of woorde vol goedgesindheid en vergiffenis? (v. 31 en 32); iii) leuens of dit wat werklik die waarheid is? (v. 25); iv) stilstuipe of ʼn soek na vrede? (v. 26 en 27);