Lees Efesiërs 4:25-31 <- Klik om nou te lees Teks: vers 30 Die Heilige van God met Wie ons verseël is, bring die heiligheid in ons “praat met mekaar.” ʼn Verseëlde mens kan nie onbewus wees van die Heilige se werking nie. Ons het met voorbereiding en met Nagmaal beklemtoon dat daar wonderlike sekerheid vir die gelowige daarin geleë is dat God aan ons sy Gees gegee het. Die Heilige Gees is die Een wat ons verseël en Hy is die eerste deposito waarmee God vir ons ʼn onbeskryflike versekering gee dat Hy die res wat Hy beloof het, ook sal gee. In ons teksvers word egter nog meer beklemtoon as die versekering wat ons ontvang as ons met die Gees verseël is. Ons word gewaarsku om nie die Gees te bedroef nie. Hy wat in ons woon, herinner ons aan wat God in Christus geopenbaar het. Ons moenie ons ore toedruk sodat ons nie hoor wat Hy sê nie. Hy met Wie ons verseël is, skenk aan ons lus om God te gehoorsaam. Ons moenie dat ander sondige begeertes hierdie lus verswelg nie. Die Heilige gee ons krag en volharding om aan God getrou te bly. Ons moet ons nie soos swakkelinge gedra en eerder aan ons sondige natuur getrou bly nie. Die Heilige Gees werk berou wanneer ons sondig. Ons moenie hierdie berou deur verskonings, selftrots, hoogmoed of wat ook al onderdruk nie. Ons moenie die Heilige Gees bedroef nie. Deur die Heilige se werking, kom daar heiligheid in ons “praat met mekaar.” Paulus gee uit die konkrete lewe duidelike voorbeelde waar ons nie die Heilige Gees moet bedroef nie(vgl. 4:25-5:5). Die klem val in die eerste gedeelte val duidelik op die manier waarom gelowiges met mekaar kommunikeer. Ons wil vanoggend twee van hierdie voorbeelde wat Paulus gee, behandel (v. 25-27). - Die Heilige Gees werk die waarheid in ons “praat met mekaar.” In ons verhouding met mekaar, moet die waarheid op die voorgrond staan. Die Gees wat in ons woon, herinner ons aan wat geopenbaar is oor die waarheid. Hy herinner ons aan God se Waarheid – dat Jesus gesê het dat Hy die waarheid is. Die Gees herinner ons dat God se absolute betroubaarheid in Jesus Christus sigbaar geword het. Deur die Gees weet die gelowige dat jy volkome kan reken op wat God sê. Die Gees herinner die gelowige egter ook dat die koms van God se Waarheid die gelowige ook verander het. Deur Christus se werk het die gelowige die valsheid “afgelê”. Die gelowige is nie meer soos die heiden vasgevang in valsheid nie. Ons is nuwe mense. Die Gees gee ons nou lus, die krag en die volharding om die waarheid te praat. Hy herinner ons dat ons lede van dieselfde liggaam is en dat net so min as wat die ledemate van ons liggaam vir mekaar sal lieg, net so min mag ons vir mekaar lieg. - Deur sy werking stuur ek my kwaad wees volgens God se bedoeling. Soms doen of sê medegelowiges dinge waarvoor ek regmatig kwaad word. Hierdie kwaad word bedroef nie die Gees nie. Die Gees dring my egter om dit wat die kwaad word veroorsaak het, uit die weg te ruim. Hy herinner my dat God in Christus dit wat sy toorn verwek het (my sondes), uit die weg geruim het. Deur die Gees se werking begin ek daarom dadelik God se bedoeling met my kwaad wees, nastreef.