Skip to content
Menu

Riglyne vir Bybelstudie met die oog op Sondag 19 Augustus 2018.

Lees Lukas 11:1-13 soos hier onder weergegee.

1 Jesus was êrens op ‘n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.”

2 En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan:

“Vader, laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom.

3 Gee ons elke dag ons daaglikse brood;

4 en vergeef ons ons sondes,

want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie.”

5 Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het ‘n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, 6 want ‘n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ 7 En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie …’ 8 Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie.

9 “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. 10 Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. 11 Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? 12 Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee? 13 As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Die klem sal komende Sondag in die prediking op verse 5-8 val. Gee aandag aan die volgende sake aangaande die gelykenis wat in hierdie verse opgeteken is:

  1. In die gelykenis is van drie persone sprake. Ons noem die persoon wat in die dorpie opgedaag het, “die reisiger-vriend”, die persoon by wie hy opgedaag het, “die gasheer” en die een wat reeds geslaap het, “ die slaper-vriend.” Wat beklemtoon Jesus in die gelykenis in verband met die reisiger-vriend wat gekom het?
  2. Wat word in die gelykenis beklemtoon in verband met die situasie van die gasheer toe die reisiger-vriend opdaag?
  3. Omdat gasvryheid in daardie tyd deur almal uiters hoog geag is, was die gasheer in ‘n uiterste groot verleentheid toe die reisiger-vriend opdaag. Motiveer.
  4. Die gasheer het met die opdaag van die reisiger-vriend tussen twee vure verkeer. Motiveer. (Wenk: Hy moes nou kies teenoor wie hy nie korrek gaan optree nie.)
  5. Vriendskap word in hierdie gelykenis beklemtoon.  Motiveer. (Wenk: Let op watter woord word in verband met vriendskap baie herhaal.)
  6. Die gasheer het besluit om gasvryheid teenoor die reisiger-vriend te bewys. Jesus maak in die gelykenis duidelik watter implikasie dit vir die slaper-vriend sou inhou. Verduidelik.
  7. ‘n Mens kan uit dit wat Jesus van die slaper-vriend vertel, aflei dat die vriend nie juis ryk was nie. Motiveer.
  8. Volgens vers 8 het die slaper-vriend tog opgestaan en die brode vir sy vriend gegee.  Letterlik vertaal, sê Jesus dat hy vanweë die gasheer se “onbeskaamheid” opgestaan het. Die woord wat hier gebruik word, wys op ‘n gebrek aan sensitiwiteit vir wat die regte optrede is. Die slaper-vriend help sy vriend om gasvry te wees vanweë sy vriend se gebrek aan sensitiwiteit. Hoekom dink u het die gasheer wel die vrymoedigheid gehad om onbeskaamd die slaper-vriend om middernag wakker  te maak?
  9. Wat leer hierdie gedeelte vir ons in verband met ons toegang tot God?