Die Redaksie vir ons webwerf wens u ‘n geseënde en vreugdevolle 2019 toe. Na aanleiding daarvan gee ons vir u die onderstaande gedig van Driekie Grobler. U word ook uitgenooi om in te loer of in te luister na ons eredienste op 30 Desember.
NUWEJAAR
Heer, as die laaste uur van die jaar my verlaat
is dit van U wat ek liefde en genade vra
en soms is ek in die lewe verras en verslae
maar met tye deur vriende en geliefdes agtergelaat.
en as die laaste minuut van die jaar verdwyn
wil ek na tye terugdink waar ek oomblikke van geluk kon vind
en as die lewe my neer wil druk staan ek voor U soos ‘n kind,
vertrou ek in hoop op die nuwe more se sonskyn.
Gee my ‘n gesindheid wat vergewe en vergeet,
help my om aan U, my vrou, my land getrou te bly,
vry te staan van selfverheffing en enige huigelary
en om werklik van die diepte van liefde te weet.
Help my om te lewe vir veel meer as eie gewin,
die stryd te stry vir dit wat reg is
en bring U my op my weg daagliks nuwe betekenis:
leer my om gedurig U waarhede te ontgin,
te leef net na U wil in my menslikheid
en ek smeek dat U die pad vooruit loop,
om elke dag te vervul met nuwe hoop
en vir my te word deel van my werklikheid
en as die donker dae skielik wil kom,
wees U die lig wat lei en die pad verlig
en as ek afwyk, bring U my dan tot ewewig,
tot in die laaste dae van ouderdom.
*****