Lees 2 Korintiërs 10:1-6 soos hier onder weergegee, deur.
1 Ek, Paulus, doen ‘n persoonlike beroep op julle – ek, wat mos “gedwee” is as ek by julle is, maar “manhaftig” teenoor julle as ek van julle af weg is. In die Naam van Christus, wat nederig en vriendelik is, vra ek julle: 2 Moet my nie dwing om streng te wees as ek kom nie. Ek is seker ek kan my veroorloof om streng op te tree teenoor dié wat ons daarvan beskuldig dat ons uit menslike oorwegings handel. 3 Natuurlik leef ons in ‘n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. 4 Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies 5 en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. 6 Ons is ook gereed om met elke ongehoorsaamheid af te reken sodra julle eie gehoorsaamheid volkome is.
Gee aan die volgende sake aandag:
- Uit vers 1 kan ‘n mens aflei dat Paulus se teëstanders in Korinte ernstige beskuldigings teen hom ingebring het. Waarvan het hulle hom volgens vers 1 beskuldig?
- In vers 1 maak hy ook duidelik dat hy eintlik maar net soos Christus optree. Verduidelik.
- Waarvan het Paulus se teëstanders in Korinte hom nog volgens vers 2 beskuldig?
- Hoewel Paulus maar net ‘n mens is, moes sy teëstanders volgens vers 3 nie onderskat waartoe hy in staat is nie. Verduidelik uit vers 3.
- Hoekom is die wapens wat Paulus (en elke gelowige) kan gebruik, volgens vers 4 effektiewe wapens?
- Wat sou die wapens wees wat Paulus gebruik in sy oorlogvoering teen valse leringe? (Wenk: lees bv. 1 Kor. 2:2).
- Watter vestings kan met die wapens van Paulus volgens vers 4 en 5a vernietig word?
- Met die wapens word nie net vestings vernietig nie. Wat word ná die vestings vernietig is, volgens vers 5 gevange geneem?
- Met watter doel vind die gevangeneming volgens vers 5 plaas?
- Wat gebeur volgens vers 6 as daar gevangeneming plaasvind maar daar is steeds ongehoorsaamheid?