Sagaria 2:1-5 & 10-13
“Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees.”
Inwoners van die stad van God
In die derde gesig van Sagaria sien ons ‘n man met ‘n meetlint. Die man gaan die stad Jerusalem opmeet. Die visioen gaan oor die toekoms van Jerusalem. God sal kom en al sy teenstanders verslind en dan sal Hy Jerusalem, die stad van God, tot glorie en heerlikheid bring.
Die stad gebreek
Die gedeelte sluit aan by die slot van die eerste gesig. Daar het Sagaria gehoor – “So sê die Here die Almagtige: My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed. Ek, die Here, gaan weer genade betoon aan Sion, Ek gaan Jerusalem weer my woonplek maak.” Daarom sien ons nou die man met die meetlint. Dit is die eerste stap om weer iets te herstel. Dit sou Sagaria goed verstaan. Hy het geprofeteer in die tyd wat Jerusalem weer opgebou moet word. Die tempel was verwoes en met vuur verbrand. Jerusalem en die stede van Juda het puinhope geword. Die stad is dus gebreek. Nie net fisies nie, maar ook geestelik. Die stad wat platgeslaan is stel ook die Israeliete se geestelike toestand voor. Met groot erns het Sagaria hieroor geprofeteer. “Die toorn van die Here het oor julle voorvaders losgebreek. En nou moet jy vir jou volk sê: So sê die Here die Almagtige: Bekeer julle tot My…Moenie soos julle voorvaders wees nie…Bekeer julle van julle lewe en julle slegte dade! Maar hulle was ongehoorsaam, hulle het hulle nie aan My gesteur nie, sê die Here.” (Sag. 1:2-4) Herstel is nodig. Die Here maak aan sy verbondsvolk bekend dat dit kom.
Die stad herstel
Die man wat die stad gaan opmeet is ‘n jongman (vers 4). Vol ywer is hy onderweg om Jerusalem op te meet. Hierdie landmeter is haastig om sy werk te verrig. Opeens verskyn daar twee ander engele. Hulle kom om hom te korrigeer. Die een engel sê vir die ander: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees.” Die jongman wil Jerusalem meet, maar Jerusalem is onmeetbaar. Die stad van God het nie grense nie. Die stad gaan nie tot ‘n gebied beperk word waar jy ‘n muur omheen kan bou nie. Die belofte aan Abraham word vervul. Die stad word herstel deur Jesus Christus. Die skeidingsmuur word afgebreek. Die stad van God is ‘n wêreldstad wat bestaan uit mense van alle volke, tale en nasies. Dit is die wêreldryk van Jesus Christus – Onmeetbaar. Sy inwoners is soos die sand van die see en die sterre van die hemel.
Die stad verheerlik
“Juig, Sion, wees bly!, Ek kom, Ek gaan binne-in jou woon.” Die stad word verheerlik. ‘n Kragtige en heerlike profesie. Met die geboorte van Jesus Christus kom dit in vervulling. Ek kom binne-in jou woon. Johannes getuig in sy evangelie – “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos die van die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid.” Ek kom binne-in jou woon is ook die profesie van Pinkster. Daar word die kerk die woonplek van God se Gees. Dit is ook die profesie van die wederkoms. Ons sien uit na die volheid van die heerlikheid – “Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3)
Gesprekspunte
- Lees Openbaring 21:1-22:5. Wat is die plek van Jesus Christus in die nuwe Jerusalem?
- Hoe inspireer die gesig oor die nuwe Jerusalem jou om die evangelie uit te dra?
- Watter kenmerke van die heilige stad kan nou sigbaar word in ‘n stad soos Pretoria?
Ds.
Gerben Meijer