Hebreërs 2:5-18
‘Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes.’
God wat mens geword het
Deur die loop van die eeue bly die vraag: ‘Wie is Jesus?’ aktueel. Die jong kerk het ook hiermee geworstel. In die eerste eeue het hulle hieroor vergader. Wie is Jesus Christus? En hulle antwoord – Jesus Christus is ware mens en ware God. Sy een Persoon bestaan uit twee nature. Alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.
Die reddingsplan
Jesus se twee nature staan direk met ons redding in verband. Vir ons redding het ons ‘n spesifieke Redder nodig. Op die wêreld weerklink die noodoproep. Daar is werklik sprake van ‘n noodsituasie. Redding is nodig. Die belydenis beskryf hoe hierdie redding gebeur het. Ons kan dit sien as ‘n terugblik. Met woorde word beskryf hoekom Jesus Christus ons Redder is. Waarom sy reddingsplan werk. Dit werk omdat Hy ware God en ware mens is.
Jesus Christus – ware mens
Jesus het aan al sy broers gelyk geword – ‘Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers’ (Hebr. 2:17) Hy het werklik mens geword In die tyd wat Hy op die aarde geleef het was dit duidelik. Hy het medelye met ons swakhede. (Hebr. 4:15) Hy het hier geleef, gedeel in die hartseer en die emosies van mense. Hy het geëet en gedrink soos ons. As mens is Hy in alle opsigte versoek, maar Hy het nooit gesondig nie. Waarom moes Hy aan ons gelyk word? Waarom moes Jesus mens word? ‘Sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes.’ (Hebr. 2:17) Hy moet mens word om ons met liggaam en siel te red. Daarvoor moet Hy as mens sterf. Die mens het gesondig en daarom moet ‘n mens betaal. Jesus Christus word mens om vir jou te red. ‘Hy het hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, bevry.’ (Hebr. 2:15)
Jesus Christus – ware God
Op heelwat plekke in die Bybel ontvang Jesus Goddelike eer. In die Psalms word daar al oor die Godheid van Jesus gesing. In artikel 10 is die saak al uitvoerig bespreek. Hier gaan dit nou oor die vraag: Waarom is dit belangrik dat ons bely dat Jesus ware God is? Dit word weer in verband met ons redding gebring. Hy is werklik God sodat Hy deur sy krag die dood kan oorwin. Hy is werklik God om die toorn van God te dra. Geen mens kan dit doen nie. Ons sal direk vergaan. Jesus Christus as God kan dit wel doen. Hy het mag oor die dood en Hy kan as ware God vir ons instaan. Verlang na die Here wat jou red. Verlang na ‘n lewe saam met Christus. ‘n Lewe wat by die dood nie eindig nie. Tydens hierdie lewe is dit ‘n onuitputlike bron van geloof, hoop en liefde.
Gesprekspunte
- Watter troos ontvang jy daarin dat Jesus mens geword het soos jy?
- Wie is Jesus Christus vir jou? Hoe leef jy in ‘n verhouding met Hom?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com