Sagaria 5:2
“Wat sien jy?…Ek sien ‘n boekrol wat in die lug sweef. Dit is nege meter lank en vier en ‘n half meter breed”
DIE VLIEËNDE BOEKROL
‘n Verloste volk is ‘n heilige volk. In Jerusalem sou die Jode nuwe huise bou, maar hierdie huise moet bewoon word deur nuwe mense met nuwe harte. Hierdie saak spreek die sesde gesig aan. Dit gaan oor die vloek van die Here oor die sonde. In die eerste vyf gesigte is pragtige dinge belowe. Dit loop alles hand aan hand met die beginsel om met die sonde te breek. Vir ons vandag. Waar ons bely: Jesus het vir my gesterf, word dit gevolg met Jesus leef in my. Dit kan nie anders nie.
Inhoud
In sy gesig sien Sagaria ‘n boekrol. Die boekrol is nie netjies opgerol nie. Dit is heeltemal oopgeslaan. Twee dinge oor die boek is opvallend. Eerstens die reuse afmetings. ‘Dit is nege meter lank en vier en ‘n halwe meter breed.’ ‘n Bekend afmeting in die Bybel, want dit is net so groot as wat die heilige in die tempel is. Die tweede is dat hierdie rol vlieg. Uitgerol sweef dit deur die lug. Hierdie boekrol is die Woord van die Here. Die engel sê: “Dit is die vervloeking wat oor die hele aarde strek.” Die Woord is lewend, dit is nie ‘n dooie stuk papier nie. Vir hulle wat dit hoor en nie verander nie, nie bekeer nie, is dit ‘n oordeel. Natuurlik geld dit nie vir alle hoorders nie. Vir hulle wat die Woord bewaar, is dit ‘n kosbare seën.
Uitwerking
Die gesig sê dit is ‘n vloek vir elke dief en vir elkeen wat ‘n valse eed aflê. Hier word een sonde van die een tafel en een sonde van die ander tafel van die wet genoem. Die valse eed raak die verhouding met God en die diefstal raak ons verhouding met mekaar. In die vorige gesigte het dit gegaan oor hoe die kerk gebou word? Nou word verduidelik hoe dit gebeur. Dit begin deur suiwering. Die volk moet breek met hulle sondes. Die ingesteldheid van hulle harte moet reg wees. In die tweedeling hoor ons die samevatting van die wet van Jesus Christus uit die Nuwe Testament. Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself.
Ontkoming
Langs die vlieënde vloek van Sagaria hoor ons van ‘n ander boekrol uit Openbaring. ‘En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan al die nasies en stamme en tale en volke.’ (Openbaring 14:6 ) Op Goeie Vrydag dra die Seun van God die vloek vir die sonde. Aan die voet van die kruis is daar vergewing vir hulle wat berou het en dit betoon. Dit is God se belofte in Jesus Christus. Dit is die evangelie wat Johannes sien. Dit is die boodskap van verlossing deur Jesus Christus. Deur Hom word ons gered van die sondevloek. Deur die geloof mag ek weet dat Jesus die vloek van God uit my lewe wegvat.
Gesprekspunte
- Watter rol speel die Bybel in jou lewe? Herken jy die werking van die Heilige Gees deur die Woord?
- Wat doen die Gees in jou as dit kom by reinheid, suiwerheid en integriteit?
- Watter rol speel gebed vir ‘n suiwer hart in jou lewe?
- Hoe is dit in jou lewe sigbaar dat jy verlang na meer as net vergewing?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com