Skip to content
Menu

Genesis 14:18-20

‘18 Melgisedek, koning van Salem en priester van God die Allerhoogste, het vir Abram kos en wyn gebring 19 en hom geseën: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. 20 Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Toe het Abram vir Melgisedek ‘n tiende van alles gegee.’

JESUS CHRISTUS GROTER AS MELGISEDEK


Oor die persoon van Melgisedek hoor ons nie baie in die Bybel nie. Net op ‘n paar plekke lees ons sy naam raak. Dit is in Genesis 14, Psalm 110 en in Hebreërs. Hierdie Melgisedek was ‘n besondere man. Hy was koning van Salem en priester van die Allerhoogste. Sy priesterskap is gelykgestel aan die van die Seun van God. Sy priesterskap is ‘n tipe van die ewige priesterskap van Christus.

Seën van die verlossing

In Genesis 14 lees ons van burgeroorlog. Abram is hierby betrokke. Met 318 geoefende soldate verslaan hy sy vyande op ‘n taktiese manier. So kry hy die naam van bevryder in die beloofde land. By sy terugkoms kom hy in aanraking met ‘n priester van die Allerhoogste. Hy ontmoet vir Melgisedek. Die koning van Salem. Dit is ‘n unieke persoon in die Bybel. ‘n Enigste van sy soort. ‘sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.’ Elke aspek van hierdie man wys na Jesus Christus toe. Hy is werklik ‘n tipe van die Messias wat moet kom. As ons kyk na hoe Hy na Christus wys, is dit so mooi om te sien hoe God dit alles bewerk. Hierdie Melgisedek seën vir Abram. Vandag word die seën in ons kerke uitgespreek. Die seën wat in Jerusalem deur Jesus Christus bewerk is. Dit is oorweldigend. Die genade van ons Here Jesus Christus. Sy genade is groot. Ons wat die dood verdien, ontvang van Hom die lewe. Hy betaal waar ons nie kan betaal nie. Hy gee vir ons ewige lewe, gratis en verniet. Alles net genade. Saam met dit kom die liefde van die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees. Die seën van die verlossing is groot. Dit omdat Jesus Christus as Seun van God die ware Priesterkoning is.

Dankbaarheid vir die verlossing

Daar waar die Here seën, bring dit die gelowige tot nederige dankbaarheid. Abraham besef hoe genadig die Here teenoor hom is. Daarvoor is sy dankbaarheid groot. Daarom gee hy aan die priester van die Here, Melgisedek, die beste deel van sy buit. Van die Here ontvang ons oorvloed. Deur Jesus Christus ‘n lewe tot in ewigheid. Dit bring ons tot by dankbaarheid. Deur die geloof gee ons uit dankbaarheid ons eerste en beste deel terug aan die Here. Ons dien Hom met alles wat ons is en het.

Gesprekspunte

  1. Hoe ervaar jy die seën van die Here in jou lewe? Sien jy dit raak in die daaglikse dinge waarmee jy besig is?
  2. Wat beteken dit vir jou om in die amp van gelowige te staan? Hoe raak dit jou dankbaarheidslewe om nou profeet, priester en koning van die Here op die aarde te wees?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com