Markus 6:1-13
“6 Hy was verbaas oor hulle ongeloof….11 Maar as ‘n plek julle nie verwelkom nie of die mense nie na julle luister nie, gaan daarvandaan weg en skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle.”
JESUS LEEF – GELOOF EN ONGELOOF
Die sentrale vraag in die Markus evangelie is: Wie is Jesus Christus? Soms kan ons beeld van Jesus eensydig wees. Dat ons Hom net sien as sagmoedig en liefdevol, wat Hy verseker is. Maar in Markus 6 word aan ons bekend gemaak dat daar waar Jesus ons aanspreek, dit ook beteken dat Hy op ons aanspraak maak. Ook beteken dit dat daar afskeid volg as ons nie na sy evangelie luister nie.
Christus se lyding in Nasaret
Die Nasareners moes sekerlik van Jesus se dade gehoor het. Jesus het die wind en die storm stilgemaak. Hy het ‘n legioen demone uitgedryf. Hy het die dogtertjie van Jaïrus uit die dood opgewek. Tog is die hoorders van Jesus se prediking op die Sabbat in Nasaret is geskok. Die mense moet erken dat Jesus buitengewone wysheid het en dat Hy groot kragte doen. Maar die mense is nie bly daaroor nie, hulle is perpleks. Hulle kan nie verstaan hoe al hierdie dinge in Hom aanwesig kan wees nie. Hulle kyk nie verder as ambag en familie nie. Die bevolking in Nasaret kan nie tot geloof kom nie. Dit omdat hulle dink, dat hulle Jesus te goed ken. Daarom loop die verhaal nie uit op konflik nie, maar op ongeloof. Deur sy eie mense word Hy nie geglo nie. Hierin sien ons die lyding wat Jesus op die aarde ervaar. Deur sy eie mense word Hy verwerp.
Christus se antwoord vir Nasaret
Jesus is verbaas oor hulle ongeloof (vers 6). Net twee keer lees ons in die Bybel dat Jesus verbaas of verwonderd is. Nou hier vanweë die ongeloof van sy naaste volksgenote. En ‘n ander keer vanweë die geloof van ‘n nie-Jood, ‘n Romeinse offisier (Mat. 8:10) Dit is nie so dat Jesus nie verstaan nie. Die ongeloof is juis verbasingwekkend. Dit is ongelooflik, dat die mense nie glo nie! Deur sy verbasing leer Jesus iets vir die mense van Nasaret en op dieselfde oomblik spaar Hy hulle. Op die oomblik verwerp Hy hulle nie in toorn nie. Hy gee tyd om hulle van hulle verbasingwekkende ongeloof te bekeer. Om die voor die hand liggende werk van God deur Jesus te aanvaar. Om te besef dat Jesus wel uit Nasaret kom, maar nie van Nasaret is nie.
Christus se opdrag na Nasaret
Jesus stuur vervolgens die dissipels uit. Daarvoor het Hy hulle geroep (3:14). Saam kan hulle as getuies optree. Hulle praat nie op eie gesag nie, maar op die gesag van hulle Sender. In hierdie gedeelte sien ons dat ons hier nie net te make het met ‘n kwantitatiewe skaalvergroting van Jesus se arbeid nie, maar ook met ‘n nuwe element. Wie Christus in sy vernedering en lyding bly verwerp, sal deur Hom as God se Seun self verwerp word.
Gesprekspunte
- Watter bewys het ons vandag dat Jesus leef?
- Hoe getuig jy van die lewende Christus met jou lewe?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com