Skip to content
Menu

Lees Romeine 15:1-13                     Teks: vers 13

Die God van hoop verander ons langs ʼn spesifieke weg na mense met hoop.

Inleiding: Het u hoop vir die toekoms?

Dink mooi oor wat jy onder “hoop” verstaan.

Kry eerstens duidelikheid wat in die Bybel met “hoop” bedoel word. Begryp dat die bron van hoop die heel belangrikste is. Hoop lê nie eerstens by mense of die afloop van gebeure nie. Ons Bron is die “God van hoop.”  Hy bied ware hoop omdat Hy ten volle in beheer is en met goddelike mag regeer. Hy bied ook ware hoop omdat Hy in sy regering liefdevol omsien na elkeen wat aan Hom behoort. Is Hy – net Hy – jou bron van hoop? Dit sal dan sigbaar word dat jy i) in verwagting  leef, ii) sekerheid het dat sy regering jou ten goede is en iii) dat jy met geloofsgeduld wag totdat Hy optree.

Die weg waarlangs God oorvloed hoop gee, moenie geblokkeer wees nie.

Al weet ons dat ons oorvloed hoop moet hê, is die realiteit dat ons dikwels min of geen hoop het nie. Moontlik omdat die weg waarlangs God die oorvloed hoop aan ons gee, geblokkeer is. Uit vers 13 is dit duidelik dat God aan ons ‘n oorvloed hoop gee deur ons via die geloof met blydskap en vrede te vervul.

Blydskap en vrede as voorvereiste: Om vol te wees van blydskap en vrede is ʼn voorvereiste vir hoop. Die blydskap waarna Paulus verwys, is ʼn baie spesifieke blydskap.  Dit is ʼn blydskap oor al die seëninge, ja al die seëninge wat die Vader vir sy kinders in Christus bewerk het. Dit is ook ʼn blydskap wat gelowiges in verhouding met mekaar vier (vgl. v. 10). Ook die vrede is ʼn spesifieke vrede. Dit is ʼn vrede wat voortspruit uit die vrede wat God tussen Hom en sondaarmense bewerk het; ʼn vrede wat innerlik ervaar word; ʼn vrede wat ʼn mens verander en ʼn vrede wat verhoudinge met ander mense rig (vgl. bv. 14:1-15:13). Eers as ek vol is van hierdie vreugde en vrede, mag ek God se hoop verwag.

Geloofsdaad as ‘n vereiste: Hoewel dit God is wat sy kinders met blydskap en vrede vervul, is die gelowiges nie passief in die ontvang daarvan nie.  Ons word via die “geloof” met blydskap en vrede vervul. In geloof maak ek die blydskap en vrede wat God gee, my eie.

Die vermeerdering van hoop gebeur deur die kragvolle werk van die Gees.

Die toename in hoop vir mense wat vol is van blydskap en vrede, is deel van God se liefdesorg vir sy kinders. Hy bewerk dit met goddelike krag binne ons, naamlik deur die krag van die Heilige Gees. Watter vrese die toekoms ook by mense mag wek, niks oorskadu die krag waarmee die Gees hoop in ons wek nie.