Skip to content
Menu

Hoofgedagte: Wie die koninkryk van God hoog ag, moet ook deur die Gees fyn kan onderskei

Inleiding: Waar God se koninkryk hier op aarde uitbrei, is daar blydskap in die hemel (vgl. Luk. 15). Mense wat egter God se koninkryk hoog ag, is nie altyd bly as daar blydskap in die hemel is nie. In die gebeure waarvan ons vanaand gelees het, sien ons bymense hier op aarde woede en opstand terwyl daar blydskap in die hemel is.  Ons leer dat mense wat die koninkryk van God hoog ag, ook deur die Gees fyn moet kan onderskei sodat hulle bly kan wees as daar blydskap in die hemel is.

Deur die Gees onderskei ons die:

  • radikale van die koninkryk,

“Israeliete, help!” skree die Jode uit Asië. Hulle glo die volk, die wet en die tempel word aangeval. Die “Israeliete” het gekom om te help en amper vir Paulus vermoor. En as Paulus deur die hulp van die Romeine geleentheid kry om te verduidelik, help dit nie.  Hulle wil hom steeds vermoor. Dit wat hy verkondig, is te radikaal.  ’n Messias wat kom en lig gee (vgl. 22:13) dat mense sien wie werklik God se volk is, hoe die wet werklik vervul word en hoe God by sy volk woon, is onaanvaarbaar.  Eers as die Gees jou oë oopmaak vir die radikale manier waarop God deur sy Messias werk, sal jy kan bly wees as daar blydskap in die hemel is.

  • omvang van die koninkryk en die

“Israeliete, help!” skree die Jode uit Asië. Omdat hulle geglo het dat Paulus ’n Griek in die tempel in gebring het, wil hulle hom vermoor (vgl. 21:28). Toe Paulus weer ’n kans kry om aan hulle te verduidelik wat regtig gebeur het, luister hulle totdat hy vertel dat Christus hom na die heidene gestuur het (vgl. 21:21).  Hulle sluit hom toe nie net uit die tempel (vgl. 21:30) uit nie, maar wil dat hy van die aarde verwyder word (vgl. 22:22). Die oorwinnaar Christus het reg op die hele aarde. Hy stuur sy mense om nie net in Jerusalem en Judea te verkondig nie, maar tot aan die uithoeke van die aarde. Hulle wat deur die Gees kan onderskei, sal nie klein dink oor die koninkryk van God nie.

  • liefde in die koninkryk.

“Israeliete, kom help!” skree die Jode uit Asië. Hulle gebruik die volk se lieflingsnaam, maar die liefde van God is die een ding wat by hulle ontbreek.  Hulle oordeel sonder dat hulle die gerig oor Paulus ondersoek het.  Die mense wat nie reg gehad het op die lieflingsnaam nie, die Romeine, moet Paulus uit hulle wrede aanval red. Hulle optrede staan in skrille kontras met Paulus wat, nadat hulle hom amper vermoor het, weer probeer om die liefde wat God deur sy Messias bewys het, aan hulle te verkondig.  Dit staan ook in duidelike kontras met die liefde waarmee Jakobus, die ouderlinge en Paulus optree teenoor die Christen Jode (vgl. 21:21-26). Wanneer mense deur die Gees kan onderskei, sal hulle optrede die liefde waarmee God ons deur sy Messias liefgehad, uitstraal.