Genesis 5:1-8 & 21-27
‘En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.’
OM SAAM MET GOD TE WANDEL
Wat is jou lewensverwagting? Dit is iets waarmee baie mense besig is. Hoe oud gaan ek word? In Genesis 5 lees ons van twee merkwaardige persone. Henog wat saam met God gewandel het. Hy is in die middel van sy lewe deur die Here weggeneem. Metusalag sy seun is die oudste man wat ooit geleef het – 969 jaar. Maar as ons hierdie gedeelte mooi lees, dan is daar ‘n groot kontras tussen die twee. Want wat met soveel woorde nie gesê word nie, is dat Metusalag nie saam met die Here gewandel het nie. In die gedeelte maak die Here aan ons bekend dat ‘n lewe nie ‘n vol lewe is as jy baie oud word nie. Nee, jou lewe is vol, as jy saam met God wandel.
Henog se lewe saam met God
Henog het in die eerste wêreld geleef. Dit is die wêreld voor die sondvloed. Die wêreld wat deur Adam en Eva in sonde geval het. Die gevolg van die sonde is in Genesis 5 baie duidelik. Tot agt keer toe hoor jy die refrein – ‘en hy het gesterwe’. By Henog word dit onderbreek. Hy het nie gesterf nie, maar is deur God weggeneem. Hier sien ons al hoe die Here bekend maak dat daar redding is. Vir sy uitverkore kinders is die aardse dood nie die einde nie. Deur Jesus Christus is daar selfs aan die begin van die Bybel nie net dood nie, maar ook lewe. Henog het saam met God gewandel. Anders as sy seun Metusalag wat ‘n lang lewe sonder God gehad het.
Om vandag saam met God te wandel
Daar is ‘n aantal konkrete sake wat ons hieromtrent kan uitlig. (1) Om saam met God te wandel raak jou gedagtes – jou manier van dink. God se Woord behoort jou gedagtes en jou gesindheid te bepaal. (2) Om saam met God te wandel eis volharding. Henog het 300 jaar lank saam met God gewandel. (3) Ook behels dit geleidelike vooruitgang – Geloofsgroei. Om saam met God te wandel beteken dat jy geestelik groei. (4) Dit behels ook dat jy afskeid neem van die wêreld en sy dinge. ‘n Lewe saam met God is ‘n lewe in sy lig. (5) Om saam met God te wandel het ewigheidswaarde. Dit is ‘n troosvolle getuienis by die sterfbed van ‘n gelowige – die Here het hom weggeneem. Nou wandel die persoon in volmaaktheid saam met God. (6) Net deur die geloof kan ons saam met God wandel – ‘Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag: Want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié beloon wat Hom soek.’
Gesprekspunte
- Wat is die kontras tussen die kort lewe van Henog (365 jaar) en die van Metusalag (969 jaar)?
- Hoe sal jy jou lewe saam met die Here beskryf? Wat beteken dit vir jou om saam met die Here te wandel? Hoe ervaar jy dit in jou eie lewe?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com