Skip to content
Menu

Eers as ek tot opregte aanbidding gevorder het, kan ek vir ander tot seën wees.

Is ek ‘n seëndief of ‘n seënuitdeler?

Jakob was in sy lewe nie regtig tot ‘n seën vir ander nie. Hy lei op ‘n slinkse manier sy broer in ‘n lokval en bekom die seën wat sy broer as oudste kind toegekom het (Gen. 25). Saam met sy ma bedrieg hy sy pa deur homself as Esau voor te hou en so Esau se seën te bekom (Gen. 27). Wanneer sy skoonpa hom bedrieg, bedrieg hy ook sy skoonpa deur met sy gesin weg te loop terwyl sy skoonpa nie tuis is nie (Gen 31:20).

Dit is opmerklik na watter gebeure uit Jakob se lewe die skrywer van die Hebreërbrief verwys wanneer hy in Hebreërs 11 die geloof van die aartsvaders uitlig. Die skrywer wys uit die lewe van Abraham op Abraham se bereidheid om Isak te offer. Uit Isak se lewe wys die skrywer op gebeure toe Isak al oud was. Uit Jakob se lewe word gewys op gebeure toe Jakob al sterwend was. Hier aan die einde van Jakob se lewe, hoor ons nie van ‘n seëndief nie, maar van iemand wat seëninge uitdeel.

Wie by die Here Self uitgekom het, het ware seën gevind.

Alles het egter nie dieselfde gebly in Jakob se lewe nie. Ons weet dat daar momente in sy lewe was waar sy geloof sterk na vore gekom het. Dink maar aan die geleentheid toe hy by Pniël met die man gestoei het en aangedring het dat hy geseën moes word (Gen. 32) en ook toe hy sy pasgebore seun by Ragel, se naam van “Swaarkryseun” na “Regterhandseun” verander het (Gen. 35). Die Hebreërskrywer lig egter net die gebeure uit toe Jakob al sterwende was en die seuns van Josef geseën het. Die besondere van hierdie gebeure wat die skrywer van die Hebreërbrief beklemtoon, is dat Jakob die Here in hierdie oomblikke aanbid het. Die woord wat die Hebreërskrywer vir “aanbid” gebruik, wys op erns en toewyding in die aanbidding. Sy liggaamshouding het gespreek van aanbidding. Terwyl hy homself as sterwende op sy staf stut, het hy God met toewyding aanbid. Die Here het deur al die gebeure heen met Jakob gevorder tot by hierdie punt waar hy die Here waarlik aanbid. Jakob het geleer dat die ware seën nie geleë is in die dinge wat die Here gee nie, maar in die Here Self. Wie by die Here Self uitgekom het, het ware seën gevind.

Wie tot aanbidding van die Here gevorder het, kan tot seën wees vir ander.

Van hierdie aartsvader wat van seëndief tot ware aanbidder gevorder het, word in Hebreërs 11:21 gesê dat hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën het. Hy is sterwend, maar hy weet dat die dood wat hom in die oë staar, nie die beloftes van die Here vernietig nie. Hy kan steeds met vertroue die nageslag seën. Ook die omstandighede, die vreemde land, hulle bywonerskap en vrae oor die toekoms wanneer Josef sou sterf, bring nie onsekerheid oor dit wat die Here beloof het nie. Uit Genesis 48 weet ons ook van die uitsonderlike wat tydens die seëning van die twee kinders plaasgevind het. Jakob het sy arms oorkruis gehou en die jongste seun, Efraim, het die “groter” seën ontvang. Gehoorsaam aan dit wat die Here aan hom aangaande die twee seuns openbaar het, het Jakob, in teenstelling met wat Josef versoek het, die seëninge toegesê. Nie alleen in die seën wat Jakob uitspreek is hy ‘n seënuitdeler nie. As aanbidder is hy in sy vertroue en sy gehoorsaamheid tot seën. Wie tot aanbidding van die Here gevorder het, kan tot seën wees vir ander.