1 Johannes 1:1-4
Johannes 15:1-8
‘Ja, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle, sodat ook julle aan ons verbonde kan wees. En ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus Christus.’
VERBONDE IN ISOLASIE
Ons leef in ‘n samelewing wat in baie opsigte aan oppervlakkigheid en onverbondenheid ly. In die kerk is dit vir ons juis belangrik om verbinding te maak. Ons deel in die verbond van die Here. Dit behels dat ons aan Hom verbonde is en aan mekaar. Ons wil lewe in verbondenheid. Dit is nou juis in die kerk waar ons deur die Gees veg teen vervreemding en gebrek aan kommunikasie. Kyk jy na jouself dan besef jy dit is vir elkeen ‘n stryd. Ware kontak met mekaar, huweliksprobleme, geen kontak met familielede, geen verbinding met skepping nie. Dit is in hierdie lewe ‘n gegewe aanwesigheid. En veral nou in hierdie tweede vlaag van inperking en isolasie is dit ‘n aktuele saak. Hoe maak jy nou verbinding met mekaar? Wat is ware verbondenheid nou eintlik presies? Deur Johannes sê die Here vir ons – ‘sodat ook julle aan ons verbonde kan wees. En ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus Christus.’
Verbonde aan die Vader
God begin deur Homself aan ons te verbind. God is ‘n God van verbondenheid. Hy wil saam met ons in ‘n verhouding leef. Dit is Hy wat die verhouding begin het. Hy het vir Abraham en sy nakomelinge gekies om ‘n verbond te sluit. ‘Ek sal vir jou ‘n God wees en jy sal vir my ‘n volk wees.’ Die Vader verlang verbondenheid van ons.
Verbonde in Christus
Johannes stel die tema verbondenheid duidelik aan die orde. By hom leer ons wat die kern van verbonde wees is. Hy begin te praat oor dit wat hulle met hulle ore gehoor het, met hulle oë gesien het en met hulle hande aangeraak het. Johannes het saam met Jesus geleef en Hy weet dat die kern van verbondenheid in Hom is. Jesus wat gesê het – ‘Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.’ (Johannes 15:5)
Verbonde aan mekaar
Om aan mekaar verbonde te wees eis geestelike inset. Hoe doen jy dit? Groet mekaar. Reik uit na mekaar toe. Hou kontak, vandag is dit op soveel maniere moontlik. Gee jou oor aan die Woordverkondiging. Verander deur die woorde van Christus. Voer geloofsgesprekke en bid vir mekaar.
Gesprekspunte
- Hoe ervaar jy verbondenheid met jou medegelowiges in hierdie uitdagende tyd?
- Wat kan jy prakties doen om nader aan God en aan jou naaste te leef?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com