Lees: 1 Pet. 1:1-21
Fokus: H.k. So 26; V&A 69 en 70.
Tema: Christus en die doop: Die versekering van ons saligheid.
– Geroep tot saligheid deur God.
Die doop is die teken van ‘n besondere saak- ons is deur God uit genade alleen uitverkies om sy volk te wees. Dit is die eerste gedagte wat ons ook kry in die besondere seëngroet van vers 2. Daar lees ons dat ons uitverkies is volgens die voorkennis van God ons Vader. Hierdie gedagte van God se voorkennis word ook verder belig deur Ef. 1:4- God het ons nog voor die skepping uitgekies in Christus om heilig en onberispelik voor Hom te wees.
– Gekoop tot saligheid deur Christus.
Onberispelik- dit beteken dat ons sonder blaam of gebrek is. In vers 18 en 19 lees ons dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van Christus- sodat ons geloof en hoop in God kan wees (vers 21). In vers 2 word die kooptransaksie deur Christus persoonlik gemaak: ons is besprinkel met die bloed van Christus. Hierdie term kry ons alreeds in die Ou Testament: Nadat die volk die wet van die Here gehoor, besprinkel Moses die volk met die bloed van die offer om aan hulle die verbond van die Here sigbaar te maak, Eks. 24:7,8.
– Geheilig tot saligheid deur die Heilige Gees.
Die laaste gedagte wat ons kry in die seëngroet van Petrus in vers 2 is dat ons uitverkore is in die heiligmaking van Gees tot gehoorsaamheid. Heilig wees beteken om deur God afgesonder te wees vir die nuwe lewe wat Christus vir ons bewerk het. In verse 15 en 16 lees ons dat die ons wat deur God geroep is om heilig te wees, en dat ons hierdie heiligheid moet uitlewe. Die doop beteken vir ons dat die Gees ons afsonder as kerk van Christus hier op aarde, daarom is die doop slegs bedoel vir die kerk van Christus.