Skip to content
Menu

Psalm 33, HK Sondag 9

’Gelukkig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy as sy eiendom gekies het. Uit die hemel kyk die Here, Hy sien alle mense.’

Die Almagtige Skepper is ons Vader

‘…julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” Dit word nie gefluister nie. Met vreugde in ons harte, mag ons dit uitroep. Welbewus, deurdag en sonder twyfel. In Psalm 103:13 lees ons dit – ‘Soos ‘n vader hom ontferm oor kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat vir Hom ontsag het’ Liefdevol slaan Hy sy arms om ons heen, want ons is sy kinders. Maar dan ontstaan daar ‘n paar vrae: Kan ek ervaar dat God my Vader is? Hoe kan ek God leer ken as my Vader? Hoe is dit moontlik dat die Almagtige Skepper, in so nabye kontak en verhouding met my wil leef? Wat beteken dit om kind van Hom te wees op hierdie aarde?

Verwondering oor die Vader

‘Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër. Hy hou die water van die see soos in ‘n dam bymekaar; Hy gaar die oerwaters op in voorraadkamers.’ Jy kan eindeloos onder die indruk kom van die skepping. Die hemel, die uitspansel, die wolke, die lug. In Psalm 19 sing Dawid daaroor. ‘Die hoë hemelrond vertel met blye mond Gods heerlikheid en eer, en, wonderbaar deurglans, vermeld die wye trans die werke van die HEER.’ Onder normale omstandighede is dit heerlik om op die aarde te woon. As mense is ons hier tuis. Vol verwondering leef ons in die pragtige woning wat God vir ons ontwerp en gebou het.

Vrees vir die Vader

‘Die hele aarde moet vir die Here ontsag hê, Hom moet al die bewoners van die wêreld vrees; want Hy het gepraat, en dit was daar, Hy het beveel, en toe staan dit daar.’ Die Psalm skrywer van ons terug na die begin toe. Hy fokus ons aandag op Genesis 1. Want daar word duidelik hoe kragtig die Woord van God is. Die grootste dinge gebeur as God sy stem verhef. Dit bring ons by ontsag en vrees vir die Here. Ons het ontsag vir die Here vanweë sy grootheid, sy verhewenheid sy kreatiwiteit. Vrees vir die Here is ‘n moeilike begrip. Dit behels dat jy weet wie Hy is, Hom eer as die Almagtige God en vol van ontsag met Hom omgaan. Hy wat beveel en dit staan daar.

Vreugde in die Vader

As jy God die Vader as Skepper erken. Deur die geloof dit weet, is daar soveel vreugde. Want dit wat God maak, daarvan mag ons geniet. Vanuit die intieme teenwoordigheid van God die Vader wat skep, leer jy, om met ander oë na die skepping om jou heen te kyk. 

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com