Skip to content
Menu

1 Johannes 2:12-17

“En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.”

Wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid

God is die God van die geslagte. In ‘n familie foto sien jy verskillende geslagte. Oupas en oumas, kinders en kleinkinders. Elkeen van die generasies het verskillende rolle en behoeftes. In die verskillende fases van ons lewe, lyk ons lewens anders. Nou is al hierdie geslagte in die kerk verteenwoordig. Johannes skryf vir ons almal. Ek skryf aan julle kinders. En wat skryf hy? Johannes skryf vir ons oor die groot voorregte wat ons van God ontvang. Ook waarsku hy ons teen bedreigings en gevare. Maar bo alles word ons bemoedig – Wie saam met God in ‘n verhouding leef, mag seker wees van die oorwinning. Wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.

Die sekerheid van die ewigheid   

In vers 12 staan daar – ‘Ek skryf aan julle, kinders, omdat julle sondes vergewe is op grond van sy Naam.’ Johannes maak duidelik dat Jesus se oorwinning oor die dood en die duiwel, nou al deurwerk in die lewe van elke gelowige. Daar is krag in die bloed van die Lam. Die christene is die oorwinnende party. Hulle het sekerheid van die ewige lewe. Dit word vir ons bevestig. Ons sondes is vergewe op grond van sy Naam. Vergewing is die fondament waarop ons christen-wees staan. 

Die verantwoordelikheid van die vaders  

‘Ek skryf aan julle, vaders, omdat julle Hom ken wat van die begin af was.’ Twee keer skryf Johannes dit. Deur ‘n lang lewe en baie ervaringe en waarneming het hulle ‘n ryke kennis opgedoen. En dan gaan dit nie om wat hulle alles weet nie, maar Wie hulle goed leer ken het – hulle hemelse Vader en Jesus Christus. Hierdie kennis moet deurgegee word. Die jong mense kan net sterk wees as hulle in die woord is. Daarvoor moet hulle die woord ken. ‘n Groot verantwoordelikheid rus op die skouers van die vaders. Met wysheid en insig moet hulle met kennis kan onderskei tussen waarheid en dwaling.               

Die sterkte van die jong mense      

‘Ek skryf aan julle, jong mense, omdat julle sterk is, en die woord van God in julle bly, en julle die Bose oorwin het.’ Jonge mense is sterk omdat die Woord van die Here in hulle is. In die wêreld is daar baie verleidings. Baie dinge word deur die oog begeer. Die enigste manier om staande te bly is deur die genade van die Here. Hy maak ons sterk deur sy Woord. Daardeur ken ons sy wil en mag ons weet – ‘die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.’

Gesprekspunte

  1. Wat kon jy al by die ‘vaders’ of by die ‘jong mense’ in die gemeente leer?
  2. Wat behels dit om die wil van God te doen? Hoe is dit ‘n realiteit in jou daaglikse lewe?

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com