Skip to content
Menu

Ná die opstanding is alles radikaal anders.

Inleiding: Wanneer ons Here die aand ná die opstanding kom en in die midde van sy dissipels staan, word dit duidelik dat alles radikaal verander het.  Jesus beklemtoon dat sy dissipels in hulle wese verander is en ook dat hulle roeping radikaal anders is.

 

Jesus se volgelinge is in hulle wese radikaal anders.

Toe Jesus in die midde van sy dissipels staan, doen Hy twee dinge wat ʼn duidelike boodskap oordra. Let eerstens daarop dat Jesus sy hande en sy sy aan die dissipels wys. Hulle sien voor hulle oë die tekens van God se oordeel. Die merke aan sy hande, is dié van ʼn gekruisigde.  Hy het God se oordeel gedra. Sy sy getuig dat Hy waarlik gesterf het. Hy het vir die mense wat aan Hom behoort, die dood binne gegaan.  Maar hier staan Hy lewend in hulle midde. Hy het oorwin en vir hulle die lewe verkry.

 

Maar dan doen Jesus ʼn tweede ding. Hy blaas oor die dissipels (v. 22). Onthou u wat God met die skepping van die mens gedoen het? Hy het die mens uit die stof van die aarde gevorm en toe die lewensasem in die mens geblaas. Die gevolg was dat die mens ʼn lewende wese geword het.  Die ware lewe het die mens egter deur die sonde verloor. Wanneer Jesus nou oor sy dissipels blaas, maak Hy duidelik wat die gevolg is van sy oorwinning oor die dood. Deur sy opstanding uit die dood, vind daar eintlik nog ʼn groter wonder as met die skepping plaas. Mense word uit die dood uitgehaal en die asem van die ware lewe word in hulle ingeblaas.  Dit doen die opgestane Here deur sy Heilige Gees wat Hy met Pinkster uitstort en wat in elke mens wat aan Hom behoort, kom woon.

 

Mense wat herskep is, is nou in hulle wese radikaal anders. Hierdie radikaal andersheid kan opgesom word in een woord: “vrede.” Twee keer sê Jesus vir die dissipels: “Vrede vir julle.” Hy skenk aan sy volgelinge ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan.  Dit is ʼn vrede wat elke aspek van hulle lewe raak en wat duidelik sigbaar is in hulle lewe.

 

Die roeping (“sturing”) van Jesus se volgelinge is radikaal anders.

Jesus beklemtoon ook dat die roeping van sy volgelinge radikaal anders is. Jesus sê vir sy dissipels: “Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle.” Die wyse waarop Jesus sê dat Hy gestuur is, wys in die oorspronklike taal op iets baie besonders.  Jesus is deur die Vader gestuur en dit het permanente gevolge. Deel van hierdie gevolge is dat sy volgelinge gestuur word. In die werk van Jesus se volgelinge sien jy die gevolge van die Vader se stuur van Jesus! Dink so oor jou roeping op hierdie aarde, Geliefde.

 

Wanneer Jesus se volgelinge hulle roeping uitvoer, staan vergiffenis op die voorgrond. Hulle lewe toon dat hulle self deur God vergewe en verander is.  Met hulle lewe roep hulle ander egter tot berou en versoening met God.  Hulle verkondig met goddelike gesag aan die wat berou het en hulle bekeer, vergiffenis.  Met goddelike gesag waarsku hulle ook die ongelowiges teen God se ewige oordeel.