Skip to content
Menu

Jesus Christus is Self God se seën.  Leef binne die ligkring van hierdie seën.

Skriflesing: Lev. 9;    Luk. 1:5-23 en Luk. 24:51-53    Teks:  Luk. 24:51

In hoofstuk 1 van die Evangelie volgens Lukas lees ons van ʼn priester wat, nadat hy die reukoffer gebring het, nie die seën kon uitspreek nie. Die nuwe bedeling breek aan met ʼn stom priester uit die ou bedeling! Hierdie evangelie sluit egter af met Iemand wat wel die seën bedien. Ons lees dat Jesus Christus priesterlik sy “hande opgehef” het (ʼn geykte beskrywing vir die optrede van ʼn priester wanneer hy die seën sou uitspreek) en die dissipels geseën het. Jesus en dit wat Hy met die hemelvaart doen, toon duidelike ooreenkomste met die hoëpriester van die ou bedeling. In heerlikheid oortref Hy en dit wat Hy doen egter by verre die hoëpriesters van die Ou Testament.

Jesus Christus is die Offeraar én die Offer wat die seën moontlik maak

In die ou bedeling het die offer wat die hoëpriester moes bring en die seën wat hy oor die volk uitgespreek het, direk met mekaar verband gehou. Ons lees in Levitikus 9:22 dat Aäron, nadat hy die offers gebring het, sy hande na die volk uitgesteek het en hulle geseën het. Slegs ʼn volk wat deur offers met God versoen is, was geskik om die heilige God se seën te ontvang. Wanneer Jesus sy hande ophef, hou dit ook verband met ʼn offer wat gebring is.  Die verskil met dit wat in die ou bedeling gebeur het, is egter dat die Een wat die offer gebring het, Self die offer was. Die Offeraar is Self die offer. Hy is die volmaakte offer wat sy lewe vir sy skape aflê.  Die versoening wat Hy bewerk is volledig. Wanneer jy deur die oë van die apostels sien hoe Jesus sy hande ophef en hulle wat aan Hom behoort, seën, onthou dan dat Hy van die volmaakte offer af kom.

Hy is die Een wat ons verseker van God se vriendelike aangesig én Hy is Self God se vriendelike aangesig.

In die seën wat Aäron oor die volk uitgespreek het, het hy eintlik die volk van God se vriendelike aangesig verseker.  Ook wanneer Jesus met die hemelvaart hulle wat aan Hom behoort seën, is God se aangesig ter sprake.  Die verskil is egter dat Hy ons nie net van God se vriendelike aangesig verseker nie –  Hy ís God se vriendelike aangesig.  In Hom wat in ontferming na hierdie aarde gekom het, wat in ons plek God se oordeel dra en ons met God versoen, sien jy hoe die Almagtige (met respek) se aangesig ophelder, sien jy die herkenning, sien jy die vriendelike aangesig van God. Wanneer jy deur die oë van die apostels sien hoe Jesus sy hande ophef en hulle wat aan Hom behoort, seën, sien dan God se vriendelike aangesig.

Hy is die Een wat God in sy heerlike teenwoordigheid toesê én Hy is Self God in sy heerlike teenwoordigheid.

Ons lees in Levitikus 9:23 dat God se magtige heerlikheid sigbaar geword het aan die volk nadat Aäron die seën uitgespreek het. Die volk kon seker wees dat God in sy heerlikheid in hulle midde gewoon het. Van hierdie heerlikheid praat Jesus ook as Hy die seën uitspreek. Die verskil is egter dat Hy Self God in sy heerlike teenwoordigheid is. Ná die seën gaan Jesus weg, maar Hy gaan weg juis sodat God in sy heerlike teenwoordigheid nou nie in ʼn laer of in die stad nie, maar deur die Gees in mense kan kom woon.  Nou begin mense hierdie heerlikheid uitstraal as hulle Christus se beeld vertoon.

Liturgie vir die oggend

Votum

Seën

Sing: Ps. 47:1, 4

Belydenis

Wet

Sing: Ps. 119:16, 26

Gebed

Skriflesing: Lees Lev. 9; Luk. 1:5-23 en Luk. 24:51-53    

Sing: Ps. 36:2, 3

Teks: Luk. 25:51

Woordverkondiging

Gebed

Sing: Sb. 1-2:1, 2, 3

Seën