Skip to content
Menu

Jakobus 3:1-12  
HK Sondag 43

‘So is die tong ook ‘n klein ledemaat wat op groot dinge roem. Kyk watter klein vuurtjie steek ‘n groot hoop hout aan die brand!

DIE BEHEERSING VAN DIE TONG

Om gepes te word, is een van die slegste dinge wat met ‘n mens kan gebeur. Selfs kinders weet dit goed. Die teenoorgestelde hiervan is dat jy iemand komplimenteer. Dat jy iemand aanmoedig en respekteer. So eenvoudig as wat dit eintlik is, so ingewikkeld word dit deur die sonde. Ons as mense weet baie goed wat die verskil is tussen reg en verkeerd. Veral as dit by ons mond kom. Wie is daar onder ons wat kan getuig dat hy sy tong altyd onder beheer het? Dit wat ons sê, dit is belangrik. Die manier hoe ons praat is belangrik. As kind van die Here moet ons daarop let dat ons goed praat met mekaar. Daar is nie ruimte vir negatiwiteit teenoor christene onderling nie.

Die krag van die tong

Die tong is ‘n kragtige middel. Met jou mond en jou woorde kan jy baie verrig. Danksy taal is die mens tot vele dinge in staat. Ons kan ons gedagtes en planne formuleer, ons kan keuses maak. Dit is hoe die Here ons in die begin geskep het. Hy het die mens die vermoë gegee om te praat en te kommunikeer. Die krag van die tong is groot. Vanweë die sondeval word die tong nie net meer ten goede gebruik nie, maar ook ten kwade.

Die gevaar van die tong

Die tong word vergelyk met vuur. Waar vuur is, is daar altyd risiko. Die tong is gevaarlik, dit is giftig. Die tong is ‘n risiko. Die gevolge van die tong is altyd onvoorspelbaar. Die gevolge van ‘n onbeheerde tong is katastrofies. Dit is vernietigend en verterend. ‘n Tong wat nie onder beheer is nie getuig nie van ‘n volwasse geloof nie. ‘Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehenna aangesteek.’

Die wonder van die tong

Vol van die Heilige Gees kan taal wonders verrig. Dit is soos wat God dit aan die begin bedoel het. Hy kies ons uit as sy kinders. Ons is christene, en net soos ‘n vyeboom vye voortbring, net so behoort ons as kinders van die Here vrugte te dra met ons mond wat getuig van ons geloof in Jesus Christus. ‘’n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars én bitter water uitborrel nie? ‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of ‘n druiwestok vye nie? ‘n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie.’

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com