Lees: Psalm 46 Teksvers: 11 Sing: Ps. 33:2, 7; Ps. 65:2, 3; Ps. 46:2, 3, 6.
Sing met oorgawe die strydlied van die reformasie.
Inleiding: Psalm 46 word beskou as die strydlied van die reformasie. Hierdie lied moet vandag nog as strydlied deur gelowiges gesing word.
Die strydlied het eintlik net twee werkwoorde: “stop” en “erken” (v. 11).
Wat die presiese omstandighede was toe Psalm 46 deur die Koragiete geskryf is, is nie duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat die gelowiges erg bedreig was. Die bedreiging was so erg dat dit met die onbewoonbaarheid van die aarde vóór die skepping vergelyk kan word (vgl. v. 3-4). Dit is ook duidelik dat dit “nasies en koninkryke” is wat hierdie bedreiging vir God se volk ingehou het (v. 7). In die Psalm kom God self in vers 11 aan die woord. Hy wat verhewe is bo die chaos op hierdie skepping, wat dus nie soos sy volk daaraan onderwerp is nie, gee twee opdragte. Die Godvyandige magte moet eerstens “stop.” Hulle moet ophou met hulle geraas en hulle opstand. Hulle moet tweedens “erken” dat Hy God is. “Stop en erken”, sê die Here. “Stop en erken” was ook die strydlied van die Reformasie. Stop en erken is ook die strydlied wat ons nou moet sing. Dit is die lied wat God vandag nog wil gebruik.
Die strydlied word deur God gebruik wanneer die sangers:
- dit met bedienende gesag sing (v. 11),
Die Rooms Katolieke Kerk het in Luther se tyd ook ’n strydlied gesing. Hulle het ook gesing: “stop en erken.” Hoekom sou die kerke van die reformasie dan ’n ander strydlied moes aanhef? Omdat die lied wat die Rooms-Katolieke Kerk gesing het, ’n lied van eie gesag geword het. God gebruik die gelowiges se strydlied wanneer sy gesag bedien word en nie die gesag van ’n Pous of ’n sinode of ’n kerkraad nie. Dit is Hyself wat sê” “stop en erken.”
- dit met vertroue op God vreesloos sing (v. 2-4),
Wie sou nie bang word as die chaos om jou so erg word soos voor die skepping nie? Tog sê die digters dat hulle nie bang is nie. Hoekom word hulle nie deur vrees verlam nie? Want hulle het ’n skuilplek en hulle weet dat die God aan Wie hulle behoort, sy kinders nie in die steek laat nie. Wat sou gebeur het as Luther en ander uit vrees die strydlied saggies of met huiwering of glad nie gesing het nie? Wanneer ons met vertroue op God uit ons hart en met ons hele lewe vreesloos sing: “stop en erken”, sal God die strydlied gebruik.
- gelaaf is met die lewende water (v. 5-10)
Hoe sou ’n gelowige daarin slaag om met vertroue vreesloos die strydlied te sing? U sien, midde in die chaos (soos voor die skepping) is God se kinders nie maar net besig om te oorleef of alreeds sterwend nie. Die Koragiete sê dat die Godstad vol blydskap is (v.5). Soos ná die skepping in die tuin van Eden, is daar strome water. God wat in die stad woon, is Self die lewende water (v. 5-6). Wie met hierdie water gelaaf word, kan die strydlied onder alle omstandighede bly sing. Sou ons dan ooit weer ’n dors ontwikkel vir skyn water? Nooit mag ons weer vergeet van die vyf solas nie: Sola Scriptura, Soli Deo Gloria, Solo Christo, Sola Gratia en Sola Fide.