Skip to content
Menu

Lees: Jakobus 1:1-18.            Teks: vers 16 Sing: Ps. 19:1, 2; Sb. 7-2:1, 2; Ps. 145:6, 7, 8; Ps. 92:3, 4, 6.

Nugter dink oor God wanneer allerlei verwarrende gedagtes geplant word.

Die moeder van alle misleiding: verwarring oor God.

Mense wat verward is oor God, is regtig in die moeilikheid. Voorbeelde uit Jakobus: daar is nie by verwarde mense geloofsgroei in beproewing nie (vgl. 1:2-4); versoekings oorrompel hulle (vgl. 1:12-15); hulle meet met verkeerde maatstawwe in hulle oordeel oor mense (vgl. 2:1-13) en het ‘n gebrek aan geloofsdade (vgl. 2:14-26). Die skep van verwarring oor God, is inderdaad die moeder van alle misleiding. Daarom waarskuwing ons teksvers dringend en liefdevol: “Moenie mislei word nie, my geliefde broers.” Moet op geen manier saamwerk wanneer verwarrende gedagtes oor God by jou geplant word nie. Nugter dink oor God!

Nugter denke oor God:

  • Hy is die Vader van die hemelligte.

Om sy lesers tot nugter denke oor God te lei, vestig Jakobus hulle aandag op die hemelligte: die son, maan en sterre. Watter heerlikheid kon die mense van daardie tyd nie in hierdie hemelligte bemerk nie?  Hoeveel groter heerlikheid sien ons nie vandag met al die wetenskaplike vordering wat ons gemaak het nie? Maar hoeveel groter is die heerlikheid van die Een wat die Vader is van hierdie hemelligte – die Een wat al die ligte geskep het?

Die Vader van hierdie hemelligte is ook radikaal anders hierdie ligte wat Hy geskep het. Die hemelligte verander en verduister. Maar die Vader verander en verduister nooit. Hoe onbestendig ons omstandighede ook mag wees, sy trou bly bestendig.

  • Elke goeie en volmaakte geskenk kom van Hom af.

Hierdie Vader van die hemelligte skenk goeie en volmaakte geskenke. Eintlik moet ons sê: “elke” goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van Hom af. ‘n Duidelike voorbeeld van so gawe is “wysheid” om in beproewing staande te bly (vgl. 1:5). In die teksgedeelte lig Jakobus egter ‘n ander gawe uit, naamlik dat God ons “verwek” het. Van hierdie verwekking-geskenk leer ons baie in ons teksgedeelte. Ons was deel van dode en moes daaruit verwek word, Hy het ons verwek net omdat dit sy “wil” was en Hy doen hierdie verwekking deur die woord wat waarheid is!

  • Hy is op pad na ‘n volle en heerlike oes.

Uit die teksgedeelte is dit duidelik dat die Vader van die ligte se verwekking nie sal eindig by die gelowiges wat Hy verwek het nie.  Die mense wat Hy verwek het, is maar net die begin van sy skepsels – hulle is, soos die eerstelinge van die oes in die Ou Testament, maar net die begin van die volle oes van verwekking wat sal kom. Die Vader van die ligte gaan alles nuut maak. Die eerstelinge, dit is hulle wat verwek is, beklee ‘n besondere plek in die Vader se op-pad-wees na die volle oes. Hulle straal nou al, te midde van al die aaklighede van hierdie wêreld, die heerlikheid uit van die volle oes wat God gaan bewerk. In hulle “ken van God” en “gehoorsaam wees aan God”, word die Vader van die ligte se lig nou reeds in die donker wêreld sigbaar.