Mattheus 12:22-32 Hebreërs 6:1-12
Dordtse Leerreëls 5:6
“Daarom sê Ek vir julle, elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie. En wie iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word. Maar wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nóg in hierdie bedeling, nóg in die een wat kom.”
DIE ONVERGEEFLIKE SONDE
Die sonde teen die Heilige Gees, is iets wat die kinders van die Here deur die eeue, besig hou. Dit is iets waardeur die duiwel twyfel saai. Op ‘n plek het ek die vraag van ‘n persoon gelees: ‘Êrens in die Bybel word daar gepraat van ‘n sonde, waarvoor daar geen vergewing is nie. Ek is bang dat ek hierdie sonde gedoen het. Ek voel skuldig. Al bid ek so gereeld vir vergewing, die skuldgevoel bly. Ek dink dat God my nie meer wil hê nie. Het ek ‘n onvergeeflike sonde gedoen?’ Af en toe word hieroor vra gestel. Dit moet vreeslik wees om te leef met die gedagte, dat jy iets gedoen het, wat so verskriklik is, dat al die pragtige Bybeltekste oor God se liefde en vergewing vir alle mense geld, maar nie vir jou nie. Hoe werk dit nou presies? Hieroor gee die Here vir ons antwoorde. En een saak staan vas: Die uitverkore kind van die Here kan hierdie sonde nie doen nie. Dit is onmoontlik.
Die kenmerke van die onvergeeflike sonde
Die onvergeeflike sonde word as laster teen die Heilige Gees beskryf. In Mattheus 12 sien ons hoe lyk iemand wat skuldig aan die onvergeeflike sonde is. Die Fariseërs laat dit vir ons sien. Hulle harte is kliphard. Na die wonder sê die menigte oor Jesus: Dit is die Seun van Dawid. Die Fariseërs antwoord: Die man is ‘n instrument van Satan en hy werk deur die krag van die duiwel. Die werking van die Heilige Gees word gelaster.
Die beskerming teen die onvergeeflike sonde
Nooit sal God sy Gees uit die harte van die gelowiges onttrek nie. Vir die gelowige is daar algehele vergewing. Vir die grootste sondaars op die aarde is daar hoop. Jesus se woorde klink duidelik – Elke sonde en lastering sal die mens vergewe word. Hoe weet ek of ek hierdie sonde gedoen het? Kan ‘n christen hierdie sonde doen? Die antwoord is nee. Dit is onmoontlik vir ‘n christen om dit te doen. Die Here verhoed dit.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com