Skip to content
Menu

2 Timotheus 3:10-4:5
Dordtse Leerreëls 5:14

‘…sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.’

BLY IN WAT JY GELEER HET

Timotheus is ‘n jong prediker, wat deur die leiding van Paulus en die genade van die Here, as ‘n goeie predikant ontwikkel het. Die situasie wat ons gelees het, is die konteks waarin Paulus hom bemoedig. Paulus is op die oomblik al oud. Hy sit in Rome in die gevangenis en hy weet dat die einde naby is. Op die punt skryf hy hierdie brief. Dit staan vir ons vandag bekend as 2 Timotheus. ‘n Brief waardeur hy die jong prediker op die regte weg wys. Hy toon vir hom die pad van die volharding aan. Dit doen hy met die woorde: bly by wat jy geleer het. Bly by die Bybel. ‘n Opregte bemoediging van ‘n ou en ervare apostel vir ‘n jong predikant wat in ‘n moeilike situasies is. Ons lees hierdie brief saam. Dit is ook gerig aan my en jou. Dit spreek jou plek, jou taak, jou omstandighede en jou verantwoordelikheid aan. Hoe volhard jy in die pad van die geloof? Deur te bly by die wat jy geleer het.

Die onsigbare Woordbediening

In die Woord maak die Here aan ons bekend watter middel die Heilige Gees gebruik om ons tot geloof te bring. Dit is deur die verkondiging van die evangelie. Om in Christus te glo, moet mense van Christus hoor. Paulus skryf dit in Romeine 10:14 – ‘Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?’ Die Woord moet verkondig word. Dit is die groot opdrag van die kerk. Ons moet hoor, lees en oordink.

Die sigbare Woordbediening

Die heilige sakramente het ’n enkelvoudige funksie – dit versterk die gelowiges. Die Here gee dit vir ons om ons te versterk in die geloof. Die heilige sakramente is sigbaar. Ons kan dit sien. As teken en seël versterk die Here ons deur die Doop en die Nagmaal. Seker mag ons wees dat die Here ons sondes vergewe en dat ons tot in ewigheid saam met Hom mag leef.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com