Skip to content
Menu

Romeine 10:5-21 Handelinge 16:6-10
Dordtse Leerreëls 1:3-5

Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”

DIE HERE WERK GELOOF DEUR DIE EVANGELIE

Alle mense het in Adam gesondig. Alle mense is voor God doemwaardig. Maar God laat nie alle mense die verdoemenis ingaan nie. Hy kies vir Hom ‘n groep mense uit, saam met wie Hy tot in ewigheid sal leef. Hoe moet ons as mense dit weet? Hoe ken ons die Here? Hoe weet jy dat jy sondig is? Dat Jesus Christus vir jou gesterf het? Hoe weet jy dat jy ‘n uitverkore kind van God is? Die antwoord – Net op een manier. Dit deurdat die Here dit aan jou bekendmaak. Deur sy Woord. Hoe hoor jy sy Woord? Deur dit te lees. Hoe verstaan jy die Woord? Deur dat iemand dit vir jou uitlê. Dit is hoe die Here besluit het om geloof in ons harte te werk. ‘n Wisselwerking tussen die Gees en die Woord.

Die verkondiging van die Woord

Net deur genade het die Here dit so bestem dat mense tot geloof kan kom. Dit alles berus op die werke van Jesus Christus. Om mense tot geloof te bring gebruik die Here verkondigers van sy Woord. Hy roep manne en stuur hulle die wêreld in om sy evangelie te verkondig. God self besluit waar en wanneer Hy te werk gaan. Deur die Woord en die Gees werk Hy geloof in die harte van sy uitverkore kinders.

Die werking van die Woord

Die uitwerking van die Woord is altyd een van twee – of dit word van harte aangeneem, of dit word van harte verwerp. Deur predikers word die blye evangelie van Jesus Christus regoor die wêreld verkondig. Alle mense hoor dat daar verlossing deur geloof by Jesus Christus is. Almal wat dit hoor, kry die opdrag – Bekeer en glo. Tog is daar baie wat dit nie glo nie. Hulle sal tot in ewigheid onder die toorn van God bly.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com