Nehemia 4
“Julle moenie bang wees vir hulle nie. Dink aan die groot en ontsagwekkende Heer! Veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise… Ons God sal vir ons veg.”
HOU MOED IN DIE GELOOF
Die lewe is ’n deurlopende stryd. Die lewe van ’n christen word daaraan geken. As jy lewe volgens die wil van die Here, dan is jy wêreldvreemd. Dan pas jy nie in ons samelewing in nie. Dit sien ons by Nehemia. Die bouwerk in Jerusalem begin. Sodra dit gebeur, kom die teenstand. Daar word gespot en bose planne gemaak. Alles met die doel om die volk van God te ontmoedig. Om die wind uit hulle seile te haal. Die kerk van Jesus Christus gaan vandag gebuk onder aanvalle. Die duiwel kom met sy duisternis. Op elke terrein van die samelewing doen hy sy bes om dit vir hom in te palm. Hy is bewus dat ons hier, aan die koninkryk van God bou. Met mag en mening probeer hy ons, op allerlei maniere ontmoedig. Ons het geen rede om moed te verloor nie. Ons het geen rede om vir die vyand bang te wees nie. Nehemia bemoedig die volk Israel. Met hierdie selfde woorde word ons vandag hier bemoedig. Die Here se Woord weerklink duidelik vanoggend: ‘Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die groot en ontsagwekkende Here…..ons God sal vir ons stry!’
Die aanval teen die kerk van Jesus Christus
Die aanval van die vyand kom op twee maniere. Dit gebeur deur die mond en deur die daad. Daar word gespot en tot geweld oorgegaan. Die vyande van Nehemia spot eers. As die volk nie ontmoedig word nie, dan gaan hulle oor tot geweld. Die duiwel werk vandag nog presies op dieselfde manier. Hy vervolg op die sagte manier met woorde en op die harde manier met geweld.
Die reaksie van die kerk van Jesus Christus
Ora et Labora! Bid en werk! Op die gespot van die vyand is die antwoord: Gebed! Nehemia neem nie reg in eie hand nie, hy bid tot die Almagtige God sodat sy reg sal geskied. Vervolgens word daar met die werk aangegaan. Die moed word nie verloor nie, daar word volhard in die geloof en in die koninkrykswerk wat gebeur.
GESPREKSPUNTE
1. Wat het Jesus gedoen met mense wat Hom gespot het?
2. Wat beteken die motivering en belydenis in vers 20 vir jou as kind van die Here vandag?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com