Skip to content
Menu

Jesaja 42:1-7
Dordtse Leerreëls 1:16

‘n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, ‘n dowwe lamppit sal Hy nie uitdoof nie; in getrouheid sal Hy reg laat deurbreek.

BEMOEDIGING VIR DIE KLEINGELOWIGE

As ons die leer van die uitverkiesing hoor, dan bring dit ons op die knieë. Ons weet ons verdien om te sterf. Ons weet,  ons is niks beter as soveel ander mense, wat verlore gaan nie. Dit roep dankbaarheid by ons op. Dankbaar dat dit nie ons lot is nie, maar dat die Here Hom oor ons ontferm. Dat Hy vir ons ‘n ware geloof gee, waardeur ons Christus aanneem. Daarom is ons lewe ‘n lofprysing aan Hom. En tog is dit nie die effek wat die leer van die uitverkiesing, op al die gelowiges het nie. Want daar is ook kinders van die Here, wat by die aanhoor hiervan, skrik. Veral as daar oor die verwerping gepraat word. Die gedagte maak baie mense bekommerd. Want daar staan in die Skrif in Lukas 12:32 – ‘Moenie vrees nie klein kuddetjie…’ En as die kudde nou so klein is, mag ek myself daarby reken. As die getal van die uitverkorenes so klein is, is ek deel daarvan? Presies hieromtrent gee die Here vir ons pastorale bemoediging. Ons hoor dit in Jesaja. Hou goeie moed! Volhard in die gebed. Wees ywerig in die gebruik van die genademiddele. Stry teen die sonde en bly gehoorsaam aan die Here.

Die aansporing tot sekerheid

Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Die duiwel se aanvegtinge op die gelowiges is sterk. Hy speel op ons gevoel. Hy probeer om twyfel in ons harte te saai – die kudde van Jesus Christus is klein, behoort ek werklik daarby? Waar ons gevoel wankelbaar is, werk die Here geloof in ons harte wat onwankelbaar is. Op basis hiervan weet ons dat ons in Christus sekerheid het.

Die waarskuwing vir roekeloosheid

Daar is ook ‘n groep mense, nie net in die wêreld nie, maar ook in die kerke van Christus, wat roekeloos hiermee omgaan. Mense wat skrik van die Woord wat verkondig word, maar hulle skrik nie wakker nie. Hulle kom nie werklik tot die besef dat hulle ‘n Verlosser nodig het nie. Hulle leef ‘n roekelose lewe en volhard in die sonde. Hulle word tot radikale bekering geroep en vir hulle dien die leer van verwerping as ‘n waarskuwing.

Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com