2 Tessalonisense 1:3-12
Dordtse Leerreëls 2:1,2
’Dit is ‘n bewys van die regverdige oordeel van God dat julle waardig geag word vir die koninkryk van God, ter wille waarvan julle ook ly.’
VERSOENING DEUR VOLDOENING
Vir ons om met God versoen te word, moet daar eers vir ons skuld betaal word. God eis dit. Hy is ‘n regverdige God. Vir die sonde moet daar betaal word. Geen versoening sonder voldoening. Dit weet die mens en die eerste reaksie is – self. Ek wil dit self doen. By klein kinders is dit al duidelik. Een van die eerste woorde is self. As ons mense oud word, dan is dieselfde verskynsel weer daar. As die liggaamlike kragte afneem, dan is jy nie meer in staat wat jy kon gedoen het nie. En tog wil ou mense alles self doen. Die mens wil nie afhanklik wees nie. Hy wil self regkom. So is dit ook gereeld met die sonde. Ek staan in skuld by die Here, en ek wil dit self regmaak. Eiewillig wil die sondige mens van nature alles oplos. Ook al is dit nie moontlik nie. Sonder die ingryping van die Heilige Gees, sal elke mens dit wil bly doen. Maar deur die Woord van die Here, en deur die werking van sy Gees, weet ons dat ons self nie regkom nie. Dat as ons dit self doen, ons nooit met God versoen sal word nie, want self kan ons nie voldoen aan die skuld nie. Daarom bring die Here ons tot by die belydenis van Jesus Christus. Hy kan wat ek nie kan nie.
God se regverdige eis
Die Here het ons as mense na sy beeld geskape. Adam en Eva het hier op die aarde volgens die wil van die Here geleef tot die dag wat hulle in opstand gekom het en in die sonde geval het. Hulle het geweet dat die straf op die sonde die dood is. Daarom eis God dat daar vir die sonde betaal moet word. Daar moet aan die straf voldoen word.
Christus die noodsaaklike Borg
Geen mens kan die toorn van God op hom neem nie. Dit kan net die Seun van God, Jesus Christus, doen. Hy het dit gedoen. Hy het Godverlatenheid ervaar sodat ons die uitverkore kinders van God dit nooit hoef deur te gaan nie. Hy bewerk vir ons versoening met God deurdat Hy aan die straf van God voldoen.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com