Mattheus 28:1-10
‘Skielik was daar ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal, nadergegaan, die steen weggerol en daarop gaan sit.’
DIE AARDE IS GESKUD [2]
Verwonderd oor die opstanding van Jesus Christus
Hierdie naweek staan ons in besonder stil by die lydenstyd van Jesus Christus. Ons herdenk in hierdie dae wat ongeveer tweeduisend jaar gelede in Jerusalem gebeur het. Op dié Sondagoggend, gaan besoek van die vroue die graf van Jesus. Hierdie gedeelte het ons saamgelees. Maar toe hulle daar kom was Jesus nie meer daar nie. Nee Jesus het opgestaan. Die engel daar sê vir hulle – ‘Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het.’ Soos wat Hy vroeër vir julle gesê het. Hulle het onthou, maar nogsteeds was hulle verwonderd. Vol verwondering. Met vrees en groot blydskap het hulle gehardloop om die boodskap oor te vertel. Die opstanding van Jesus veroorsaak vandag nogsteeds verwondering. Wat is verwonderd? Jy is verbaas, vol ontsag, jy het diepe verwondering, jy is verras. Die gedeeltes wat ons gelees het roep verwondering by ons op. Want die dade van die Here is wonderbaarlik.
Oorwinning van die dood
In die hoogste wysheid van die wêreld is dood, dood. As iemand die graf in gaan is dit die einde. Daar volg niks meer nie. Vir mense wat die Here nie ken nie is die dood angswekkend. Dit is werklik iets om te vrees. Vir die kinders van God is dit anders. Danksy die dade van Jesus Christus het die dood sy angel verloor – die dood is oorwin. Die dood het nie mag oor ons nie, omdat ons in ewigheid saam met God sal lewe.
Opwekking tot nuwe lewe
Hier op aarde word ons opgewek tot ‘n nuwe lewe. Dit is die effek van die opstanding van Jesus hier. Aan die kruis het Christus betaal vir ons sondes, Hy het ons vrygekoop en deurdat hy opgestaan het uit die dood wek Hy ons op om op te staan uit ons sondige lewens. Die ou sondige mens moet agtergelaat word en elke dag moet jy jou beywer om jou hele lewe aan Christus te wy.
Versekering tot in ewigheid
Deur die opstanding van Christus word ons ook verseker van die opstanding van ons liggame met die wederkoms. Op die dag wanneer Christus terugkeer na die aarde toe sal alle grafte oopgaan. Almal wat in Christus ontslaap het se liggame sal verheerlik word. Ons liggame sal met ons siele herenig word. Daar sal geen siekte en beperkings wees nie en ons liggame sal verheerlik word soos Christus se liggaam.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com