1 Johannes 3
DL ¾:12
‘Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is.’
WEERGEBORE DEUR DIE SAAD VAN GOD
Is jy ‘n weergebore christen? Die vraag klink vreemd. Dit is nie iets wat iemand jou sommer sal vra nie. In Amerika is dit nie so vreemd nie. ‘n Tyd gelede was daar ‘n predikant, wat die fokus baie streng daarop geplaas het. Hy het die lyn skerp getrek tussen naam-christene en weergebore christene of born-again christians. In die praktyk het hy gesien dat baie mense sê hulle is christene, maar hulle lewenswandel getuig nie daarvan nie. Hulle bely dit met die mond, maar hulle dade bewys die teendeel. Daarom die vraag: Is jy ‘n weergebore christen? En van daaruit kom natuurlik die volgende vraag: Hoe word jy geestelik weergebore? Die vraag is deur die loop van die eeue al baie keer gevra. Hieroor het hulle ook by Dordt verskil. Daarom gee ons belydenis so duidelik en so kragtig antwoord hierop.
Nie deur ons eie werke nie
Ons bely dat die wedergeboorte die werk van God in ons en sonder ons is. Dit gebeur sonder ons hulp. Ons kan nie daartoe bydrae nie. Daar was sommiges wat gesê het die wedergeboorte word deur die woordverkondiging alleen gewerk. As jy genoeg kennis het, dan sal jy weergebore word. Dit is nie so nie. Dit gebeur ook nie deur die wil van die mens nie. Dit is nie jou besluit of dit gebeur of nie. As die Almagtige God in iemand gaan werk, wie kan dit keer?
Maar deur God se werke
Die wedergeboorte is die werk van die Heilige Gees. Deur sy kragtige roeping gebeur dit. Ons moet weer gebore word, want ons is dood deur die sonde. Ons moet vernuwe word, want die ou sondige mens is nie beeld van God nie. Dit wat dood is moet lewend gemaak word. Dit is bonatuurlik en wonderlik. Hierin maak die Here die mens aktief. In ons leef daar ‘n nuwe mens wat as herstelde beeld van God Hom ken en dien.
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com