Lees: Mattheus 5:1-16 Teks: 13-16 Sing: Sb. 1-2:1,2,3; Ps. 102-1:1,8,9; Ps. 85-1:3,4; Sb. 10-2; Ps 33-1:1,6,11.
“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”
Die wysheid van God vir die wêreld – skyn heilig
Die toekoms kan jy nie sien nie. In die toekoms, miskien selfs al môre, kom Jesus Christus terug. As Hy kom, kom ook God se koninkryk vir altyd hier op die aarde. Dit word dan selfs ‘n nuwe aarde. Hoe sal dit wees? Ook hier besef jy, jy kan nie in die toekoms sien nie. Maar ons weet wel iets van hoe dit in die toekoms gaan lyk. Want die Here openbaar aan ons ‘n paar dinge oor die onsigbare toekoms. Dit maak Hy nou al bekend vir ons en in ons. Ons as die liggaam van Christus. Die kerk van God wys iets van dit wat in die toekoms kom. Ons die gemeente van Jesus Christus in hierdie wêreld. Dit is die plek wat Jesus vir ons gee. So word daar iets van die toekoms nou al sigbaar. Juis daarin dat ons hier saam met God leef. As kinders van die Vader. Dissipels van Jesus Christus, wat aan Hom verbonde is. Mense, vol van die Heilige Gees. Daarin word die wysheid van die Here in die wêreld geopenbaar.
Waarskuwing (vers 13)
‘Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word?’ Wat gebeur as die sout sy smaak verloor? Die ‘smaak verloor’ is ‘n interessante werkwoord in Grieks. Letterlik staan daar die sout het dwaas geword. Paulus gebruik die woord in sy briewe in teenstelling tot wysheid. Die Here spreek sy volk hier aan. Hulle is deur God geroep om die sout vir die aarde te wees. Om die wysheid van God in hierdie dwase wêreld te bring. As Israel nie meer God se wysheid laat sigbaar word in die wêreld nie, het dit sy besondere plek verloor, het dit geen doel en sin meer nie.
Bemoediging (vers 14,15)
Hier sit baie bemoediging in hierdie prediking van Jesus Christus. Juis daarin hoe Hy die woorde formuleer. Hy sê nie ons moet die sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees nie. Nee, Hy sê – ‘Julle is die sout vir die aarde’ en ‘Julle is die lig vir die wêreld’. As uitverkore kind van die Here wat deur die Heilige Gees weergebore is, is jy dit. Deur die genade van die Here is dit so. Dit is wie jy is. Sout en lig bring dit na vore. ‘n Kind van die Here behoort aan Hom met alles wat jy is en het – soos wat lig niks anders kan doen as skyn nie.
Opdrag (vers 16)
Die volk van die Here ontvang ‘n besondere plek. Daarom ontvang hulle ook die opdrag – Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien. Die goeie werke staan in verband met die saligsprekinge. Dit gaan oor die barmhartiges, vredestigters, sagmoediges, hulle wat rein van hart is ens. Deur hierdie werke word die aandag nie op die mense gerig nie, maar op die Vader wat in die hemel. Dit is die doel – Dat julle Vader wat in die hemel is verheerlik word.
GESPREKSPUNTE
1. Watter bemoediging kry jy hierin dat jy nie dit moet wees nie, maar deur die genade van die Here is?
2. Watter impak het die lewe van ‘n kind van die Here dan op die wêreld waarin hy of sy leef in besonder as ons na die werking van sout en lig kyk?
Ds. Gerben Meijer
meijer.gp@gmail.com