Gemeente Inligting

Bestaansrede vir die Gereformeerde Kerk Waterkloofrand.

Die Gemeente word deur die Here in stand gehou op ‘n spesifieke plek in spesifieke omstandighede en met spesifieke bestaansredes. Hierdie bestaansredes is om tot eer van die Here in afhanklikheid van Hom, in beide woord en daad, na buite en binne  draers te wees, met die oog daarop om die Blye Boodskap uit te dra.

Geskiedenis van die Gemeente

Die Gereformeerde Kerk Waterkloofrand het in 1963 afgestig van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Brooklyn. Voor die afstigting van die Gereformeerde Kerk Rietvallei in 1987 het die gemeente gegroei van 236 lidmate tot 978 lidmate. Tans (Augustus 2023) het ons gemeente 490 lidmate waarvan 402 belydend en 88 dooplidmate is.

Die volgende woongebiede lê binne die gemeentegrense : Brooklyn-Suid, Nieuw-Mucleneuk, Waterkloof, Waterkloofrif, Waterkloofrifuitbreidings, Waterkloofhoogte, Waterkloofpark, Monumentpark (oos van R21 snelweg), Sterrewag, Erasmusrand, Erasmuskloof.

Ons kerkgebou is op die hoek van Lange en Deystraat, Nieuw Mucleneuk.

Ons lidmate verteenwoordig ‘n groot verskeidenheid beroepe: van administratiewe en tegniese beroepe tot professionele en bestuursberoepe.

Uit die ouderdomsprofiel van Augustus 2023 blyk dit dat die verskillende ouderdomsgroepe goed verteenwoordig is:

   Ouderdom     Persentasie     Getal
      0 – 6           8.45%      46
     7 – 13           5.54%      27
   14 – 18           5.57%      28
   19 – 25           8.24%      45
   26 – 45         21.87%    107
   46 – 59         17.88%      88
   60 – 69         10.63%      52
   70 – 79         11.02%      54
   80 – 89           6.93%      34
     90+           1.63%        8

Predikante :

Reeds vroeg in die bestaan van die gemeente is die eerste predikant beroep nl. Prof. Bouke Spoelstra en is onlangs oorlede, Daarna is die gemeente bedien deur ds Peet de Wet (oorlede), dr Neels Smit (oorlede), ds Chris Hattingh (oorlede) en deur dr Douw Breed wat in November 2019 ge-emiriteer het.

Kommissies en werksgroepe in die gemeente.

Om die verskillende take uit te voer of belangegroepe te verteenwoordig  het die gemeente verskillende kommissies en werksgroepe.

Kommissies van die Kerkraad (ouderlinge) is die volgende :

  • Predikantbedieningskommissie : sien om na die bedienings- en leerwerk van die predikant en aflospredikante
  • Evangelisasiekommissie
  • Katkisasiekommissie met sy kategete
  • Liturgiekommissie : sien om na sake wat die liturgie raak, insluitende sang in die gemeente

Kommissies van die Breë Kerkraad is die volgende :

  • IK Kommissie : die Inisiërings- en Koördineringskommissie beplan en koördineer die sosiale aspekte van die gemeente
  • Finansieskommissie
  • Eiendomskommissie
  • Jeugkommissie
  • Kommunikasiekommissie : die kommunikasiekommissie dra sorg dat die nuusbrief, Waterkruik, weekliks verskyn met die jongste nuus en inligting oor aktiwiteite wat gaan plaasvind en sorg ook dat die webwerf (www.gkwaterkloofrand.org.za) instand gehou en op datum gehou word. ‘n Baie belangrike taak van die Kommissie is om sorg te dra dat die oudio- en videouitsendings elke Sondagoggend en -aand “uitgesaai’ word. Verder word sorg gedra dat die inligtingsbord binne in die kerkgebou die lidmate instaat stel om die woorde en note van die liedere wat gesing  word en die powerpoint aanbiedings te volg.
  • Ad hoc-kommissies word van tyd tot tyd geskep om spesiale opdragte uit te voer

Diakonie

Die Diakonie verrig barmhartigheidswerk en in besonder op die volgende terreine :

  • Bystandsgevalle in die gemeente
  • Barmhartigheidswerk buite die gemeente, o.a. ander Gereformeerde gemeentes
  • Bystand en ondersteuning aan senior lidmate
  • Bemagtiging van ons gemeente se lidmate om barmhartigheidswerk te verrig.

Organisering van die Susters

Die susters van die gemeente het ‘n bestuur van 4 lede wat alle sake rakende die susters in die gemeente hanteer. Die bestuur skakel met die Inisiërings- en Koördineringskommissie vir aksies wat die gemeente raak.

‘n Suster word as wyksuster toegedeel aan elkeen van die 26 wyke waarvolgens die lidmate deur die BKR ingedeel is. Elke wyksuster word vir die jaar ingedeel by een van die funksies wat vir die gemeente beplan is en verrig dan sekere take saam met die lidmate in haar wyk. Die wyke is ook ingedeel by die program om tee en koffie aan die lidmate in die oggende na die erediens te bedien. Barmhartigheidswerk word verrig by die GKSA se twee President Krugerkinderhuise. Die name van die susters en hul wyknommers verskyn onder die bladsy vir susters.

Bybelstudie

Lidmate word instaat gestel om by een van die volgende groepe in te skakel wat o.l.v. die Predikant ‘n onderwerp/tema bespreek :

  • Verskeie groepe soos aangetoon in die Waterkruik.

Verdere inligting oor die temas en werkswyses van die groepe word gereeld in die Waterkruik bekend gemaak.

Sang en musiek

Ons pos van orrelis word tans beklee deur Ansie Wichmann en met haar begeleiding by die sang, sing ons gemeente besonder hartlik.

Gemeentekenmekaar

Ten einde ons lidmate te help om lidmate uit te ken, word gepoog om foto’s van ons lidmate te bekom en dié foto’s word op ‘n groot kennisgewingbord op die stoep van die kerkgebou geplak. Op dié wyse is sowat 50% van ons lidmate identifiseerbaar. Nuwe lidmate se foto’s word kort na hulle aankoms in die gemeente ook op die bord uitgestal. Omdat almal nie die diens kan bywoon as gevolg van Covid nie, is daar tans nie hiermee bygehou nie.

Administrasie

Geen gemeente kan sonder ‘n administratiewe funksie wat op ‘n effektiewe manier deurlopend uitgevoer word nie, klaarkom nie. Ons gemeente het dan ook die luukse van ‘n kantoor en van ‘n administratiewe beampte wat elke dag en aand bereik kan word ten opsigte administratiewe take. Die administratiewe beampte verrig ook die kostertake wat gedurende die week verrig moet word. Ons administratiewe beampte is sr Nienke van der Walt en sy is bereikbaar by telefoon nr. 083 398 9080 of per e-pos by admin@gkwaterk.co.za. Kantoor ure is Donderdae en Vrydae tussen 9:00vm en 12:00vm.

Bankbesonderhede

Die rekening van die Kerkraad is by ABSA en die rekeningnommer is 000 340 685. Inbetalings moet met die gepaste inskrywing (kerkbydrae/boufonds, ens.) gespesifiseer word.

Die rekening van die Diakonie is by ABSA en die rekeningnommer is 913 978 5681 . Inbetalings moet met die gepaste inskrywing (bv, Kinderhuise, ens.) gespesifiseer word.

Erediensuitsendings

Eredienste kan in video- of oudioformaat gevolg word deur op die betrokke skakel te klik (klik op YouTube onderaan die bladsy of oudio se skakel bo). Hierdie fasiliteit in video is ook beskikbaar vir vorige eredienste en wel vanaf April 2014 en oudio die afgelope 12 maande.