Lees Genesis 47:11-27
Teks: vers 27
VERSTAAN GOD SE VERSORGING SODAT JY BINNE SY OMGEE LEEF.
Die kragte wat in hierdie wêreld werk, verswelg nie God se versorging nie.
Nadat die skrywer van Genesis beskryf het hoe die Farao Josef se familie ontmoet het, stel hy dadelik die sosio-ekonomiese omstandighede van daardie tyd op die voorgrond. Die selfgerigtheid en angstigheid was aan die orde van die dag! Aan die een kant was die Farao se belange. Die kosvoorraad het aan Hom behoort en hy het Josef aangestel hom daarna om te sien. Aan die ander kant was die verarmde bevolking van die land. Hulle het by Josef kom pleit vir kos want hulle sou sterf as hy nie iets doen om hulle te red nie. Teen hierdie agtergrond moet ons verstaan wat die skrywe in verse 12 en 27 noem. Midde in hierdie omstandighede, het God steeds vir Jakob en sy familie gesorg. Daar is ook in die wêreld waarin ons leef allerlei kragte aan die werk. Sosiale, kulturele, politiese en ekonomiese belange van groepe en individue bots dikwels met mekaar en dit is onseker hoe dinge gaan verloop. God se versorging van sy kinders word nie deur hierdie soort kragte verswelg nie.
God versorg met toegespitste liefde.
In die maatreëls wat Josef instel, word die Farao nie van sy eiendom (die voedsel) beroof nie. Die Egiptenare verloor wel hulle grond en hulle besittings maar hulle erken dat Josef hulle lewe gered het (vgl. v. 25). God het dus nie net vir Jakob-hulle versorg nie, maar ook vir die Egiptenaars. Tog word Jakob en sy nageslag anders versorg. God het Hom vroeër aan Abraham en sy nageslag verbind. Hy het beloof dat Hy aan Abraham ? groot nageslag sal gee en dat die volke van die aarde in Abraham geseën sal wees (vgl. Gen. 12). Met toegespitste liefde begin God in hierdie moeilike omstandighede aan hierdie beloftes uitvoering gee. Dié mense aan wie God Hom verbind het, “was vrugbaar en hulle het baie geword.” In Josef was hulle ook tot seën vir die Egiptenaars. As ? mens hierdie gebeure met Esegiël 16:1-7 saamlees, begryp jy meer van God se toegespitste liefde: Israel was in hierdie tyd soos ? pasgebore dogtertjie wat niemand gehad het om haar te versorg nie. Met toegespitste liefde het God Hom oor haar versorg en haar laat lewe. Wanneer die Seun van God kom, word God se toegespitste liefde egter volkome sigbaar. In Hom verstaan ons hoe intiem God Hom aan ons verbind het. In Hom weet ons hoe persoonlik Hy ons versorg. In Hom weet ons hoe daar uit Abraham se nageslag ware seën vir die volke kan kom. En deur hierdie Seun het Abraham se nageslag werklik gegroei.
Wie God se versorging verstaan, kan binne sy omgee leef.
Jakob se nageslag het duidelik nie God se versorging verstaan nie. Nie baie jare ná Josef se dood nie, het die verdrukking van Jakob se nageslag begin. Toe God baie later vir Moses stuur om Israel uit die verdrukking te verlos, het die volk nie geweet Wie God is nie (vgl. Eks. 3:13). Moses moes God weer aan hulle bekendmaak. Hulle het “gekreun”, “gesug” en “gekerm” (Eks. 2:23-24), maar nie binne God se omgee geleef nie. Mense wat binne God se versorging leef, gee ag op die versekerings wat God deur sy Gees en Woord gee. Hulle gee ag op God se versekerings:
• van die verhouding tussen Hom en ons – dié verhouding wat in Christus en deur die Gees tot stand gekom het,
• dat sy toegespitste liefdesorg nie deur die kragte in hierdie wêreld verswelg sal word nie en
•dat Hy ons bekwaam maak om, as nageslag van Abraham, tot seën te wees in hierdie wêreld.