Skip to content
Menu

Lees 1 Korintiërs 12:1-11
Teks: vers 3

BINNE DIE KRAGVELD VAN DIE GEES IS EK ʼN GELOWIGE MET INSIG EN MOED.

Inleiding:

Uit 1 Korintiërs 12-14 is dit duidelik dat die gemeente in Korinthe sekerheid wou kry wanneer iemand werklik “geestelik” was. Dit lyk of mense wat sekere gawes (soos die gawe van “spreek in tale”) gehad het, hulle self geestelik meerderwaardig geag het. Aan die begin van hierdie drie hoofstukke maak Paulus duidelik wanneer iemand regtig “geestelik” is, dit wil sê, wanneer iemand werklik vol is van die Heilige Gees. Paulus wys in verse 1-3 op heidene, die Jode en die ware gelowiges se optrede.

Die Gees verhoed insiglose saamstappery.

Die tyd toe van die eerste lesers nog deel van die heidendom was, was hulle wel ook godsdienstig. Paulus gebruik ʼn baie bekende gesig in daardie tyd om dit te verduidelik. Die Romeine en die Grieke het in optogte gestap na ʼn plek van aanbidding. Hoewel die eindpunt van hierdie optog “stom afgode” was, het die mense maar ingeval by die optog. Hulle was blind vir die dwaasheid waarmee hulle besig was. Met hierdie bekende gesig maak Paulus die insigloosheid van die heiden bekend. Soos mense wat saamstap in ‘n optog sonder om werklik vir hulleself te dink, so word die heiden deur mense en hulle standpunte meegevoer. Die eindpunt is altyd stomme afgode – al is dit nie soos in daardie tyd afgodsbeelde nie. Wanneer God egter sy Gees aan mense gee, open Hy hulle oë. Deur die Gees begin hulle krities dink. Deur die Gees sien hulle die dwaasheid van afgodediens.

Deur die Gees is ek nie ʼn eiewillige vroom mens nie.

Paulus verwys in vers 3 na iets wat in die sinagoges gebeur het. Vroom het die mense daar bymekaar gekom om die lewende God te aanbid. In hulle vroomheid was daar egter ʼn vernietigende eiewilligheid. Jesus, die Gestuurde van God, het nie ingepas by hulle skema nie. Die feit dat hulle daarin kon slaag om Hom te laat kruisig, gebruik hulle om te beweer dat Hy deur God vervloek is. Omdat die Jode deur al die eeue God se volk was, sou hulle standpunte gewig gedra het by mense – by die Christene uit die Jodedom sowel as dié uit die heidendom. Hulle het verklaar dat Jesus deur God vervloek is. In ons teksvers word egter beklemtoon dat hulle nie deur die Géés praat nie. Die Heilige Gees ontmasker eiewillige vroomheid binne ʼn mens. Die Gees maak jou leeg van jou eie godsdienstige self.

Die Gees verander my tot ʼn gelowige met insig en moed.

As die Gees my verhoed om ʼn godsdienstige meeloper en ʼn eiewillige vrome te wees, waartoe lei hy my wel? Hy gee eerstens aan my insig sodat ek Jesus, die Verlosser, as my Here herken. Nie net as “dié Here” nie, maar as “my Here.” Deur die Gees bely ek Hom as die Een aan wie ek behoort, wat oor die totale som van my lewe gesag moet voer en aan Wie ek my hele lewe dank wil bewys.
Die Gees gee egter nie net die insig nie. Hy maak my ook geloofsdapper. Hy gee my die moed om hierdie belydenis openlik te bely – sowel met die mond as met my lewe. Die Gees verander my tot ʼn gelowige met insig en moed.