Lees 1 Petrus 4:1-6.
Teks: vers 1
DIE OORWINNING VAN CHRISTUS IS ONS WAPEN TERWYL ONS NOG BLOOTGESTEL IS.
Ons moenie weerloos die slagveld betree nie.
Wanneer ʼn mens as gelowige onder die leiding van die Gees jou lewe eerlik in oënskou neem, is dit wat jy ontdek nie altyd aangenaam nie. Wanneer jy agterkom wat jou werklike motiewe is, hoe jou gedagtewêreld lyk, hoe jy dikwels oor dieselfde ontrouheid aan die Here struikel en hoe maklik die sonde in jou lewe indring, besef ʼn mens hoe blootgestel jy is. ʼn Mens voel eintlik weerloos. Petrus skryf aan mense wat ook blootgestel was. Hy gebruik in hoofstuk 5 ʼn beeld uit die natuur om dit te verduidelik. Hy sê: “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” Daarmee openbaar die Heilige Gees egter nie dat ons weerloos is nie. In ons teksvers word juis aan ons geopenbaar dat ons nie die slagveld weerloos moet betree nie. Petrus skryf dat gelowiges hulle moet bewapen en die wapen waarvan hy praat is ‘n “gedagte” (v.1). Bewapen met ʼn “gedagte” is ek dus nie weerloos nie al is ek ook inderdaad blootgestel.
Bewapen jou self met die gedagte van Christus se oorwinning.
Wat is hierdie gedagte waarmee die gelowige hom moet bewapen? Dit is duidelik dat die inhoud van hierdie gedagte “Christus se oorwinning” is. Twee aspekte van hierdie oorwinning word in ons teksvers na vore gebring:
• Deur sy oorwinning is ʼn aanslag op Christus onmoontlik.
Petrus verwys na Christus wat liggaamlik gely het. Toe Christus mens geword het, het Hy die slagveld betree waarin ons leef – daar waar die duiwel soos ʼn brullende leeu rondloop. Hy het soos ons “blootgestel” geword. In sy lyding het Hy egter nie geswig onder die aanslag nie. Hy het sy lyding in die liggaam in volkome gehoorsaamheid aan sy Vader voltooi. Toe Hy sterf en begrawe word, is sy “blootgesteldheid” voltooi. As Hy as mens uit die graf kom, opvaar en van sy Vader alle mag ontvang, is daar geen moontlikheid meer dat daar op Hom ʼn aanslag gemaak kan word nie. Dit is die een aspek van Christus se oorwinning waarmee ons ons moet bewapen. Hy aan Wie ons verbind is, is deur sy oorwinning buite die slagveld. Elkeen wat aan Hom verbind is, se finale oorwinning is in Hom vas en seker. Hoewel ek dus steeds op die slagveld is, is ek in ʼn sekere sin reeds onder die aanslag uit.
• Deur sy oorwinning sal ons “oorwinnaarsaard” na vore kom.
Christus se lyding na die liggaam het egter oor vir ons betekenis hier waar ons nou op die slagveld verkeer. Die Heilige Gees wat my aan Christus in sy oorwinning verbind, dra ook Christus se oorwinnaarskap in my in. Wie nie aan Christus verbind is nie, het daar geen wil of vermoë om weerstand te bied teen die sonde as ʼn mag nie. Deur my verbinding met Christus, word my “slaweaard” egter verander na ʼn “oorwinnaarsaard.” Hoewel ek nog, anders as my Here, onder die aanslag van sondemag verkeer, word ek nie meer meegesleur daardeur nie. Met hierdie gedagte word ek vanoggend by die Nagmaal bewapen.