Lees 1 Korintiërs 12:12-13:1
Teks: vers 12:13
DIE FEITLIKHEID VAN DIE GEES IN ELKE LEDEMAAT BRING ANDER FEITLIKHEDE NA VORE.
Die Gees se saakmakende inwoning in elke ledemaat van die liggaam is ʼn werklikheid.
Wanneer Paulus in 1 Korintiërs 12-14 oor die gemeente skryf, staan die inwoning van die Heilige Gees vir hom voorop. In 12:13 stel hy dit baie sterk. Hy sê “ons almal [is] met die een Gees gedoop” en “ons is almal van die een Gees deurdrenk.” Dit is die “een” Gees en dit gaan oor “almal.” Hierdie een Gees is ook nie maar net saam met almal nie. Elkeen is met Hom gedoop. Elkeen is van Hom deurdrenk. Hy is saakmakend in elkeen teenwoordig. Dus: die saakmakende inwoning van die Gees in elke ledemaat in die liggaam is ʼn werklikheid.
Die Gees maak gelowiges as “liggaam van Christus” ʼn werklikheid.
Paulus gee in die gedeelte nie aan die gelowiges ʼn opdrag dat hulle ʼn liggaam van Christus moet word nie. Hulle is ʼn liggaam. Omdat hulle elkeen van dieselfde Gees deurdrenk is, omdat Hy elke lid aan die Hoof Jesus Christus verbind, is hulle die liggaam van Christus. Dit is ook nie hulle wat besluit wat die liggaam tot liggaam sal maak nie. Dit is God wat daaroor besluit. Hý gee aan mense bepaalde take (vgl. v. 28). Hy roep die een om hand, die ander om voet en die ander om oog te wees. Hy deel deur sy Gees die gawes uit. Dus dit is nie die gelowiges in die gemeente wat ‘n werklikheid van Christus se liggaam tot stand bring nie. Die Gees maak die gelowiges as “liggaam van Christus” ʼn werklikheid.
Deur die Gees funksioneer die liggaam van Christus soos ʼn liggaam.
Omdat die werklikheid van “Christus se liggaam” ʼn werklikheid is – ʼn Godgegewe werklikheid – is dit teennatuurlik dat ledemate van hierdie liggaam nie as liggaam optree nie. Die Gees met Wie ons deurdrenk is, dring ons om liggaam te wees. Hy dring eerstens nie net sekere ledemate nie, maar elkeen. Hy gee ook die insig watter gawes ek ontvang en waar my taak is.
Dit is die Gees wat aan elke ledemaat gewilligheid gee. Hy maak elke ledemaat:
– gewillig, nie minderwaardig nie (vgl. v. 15-16).
– gewillig, nie oorheersend nie (vgl. v.17).
– gewillig, nie meerderwaardig nie (vgl. v. 21)
Deur die Gees ly ledemate saam en deur die Gees is hulle saam bly (vgl. v. 26).
Die Gees gee die een gawe wat nodig is dat die liggaam met ledemate wat verskillend is, in eenheid funksioneer. Die Gees gee aan die ledemate liefde (vgl. 13:1-13). Deur die Gees funksioneer die liggaam van Christus soos ʼn liggaam.