Lees Galasiërs 6:1-10
Teks: vers 8
Met al die verwarring, maak seker dat jy op die akker van die Gees saai.
In die verwarring kan ons maklik die regte saailand verlaat.
Gebeure die afgelope twee weke en in besonder uitsprake van openbare figure, het groot verwarring by mense gebring. Binne hierdie verwarring kan die gelowige maklik op dieselfde manier as die ongelowige reageer. In ons teksgedeelte se taal: ons kan maklik moeg word (vgl. v. 9) en op die akker van die sondige natuur begin saai (vgl. v. 8). Ons kan soos die ongelowige in woede, wraak of vrees reageer en so ons deel bydra tot die chaos wat in Suid Afrika begin ontstaan. In ons teksgedeelte word die gelowige egter gelei om op ? ander land te saai. Ons hoort op die akker van die Gees. Juis in hierdie verwarring moet die gelowige goed luister wat die Gees openbaar en midde in die verwarring en dwars teen die aandrang van die sondige natuur die Gees gehoorsaam.
Die Gees leer my dat God en sy bestuur ? werklikheid is.
Wat sal ek hoor as ek goed luister? Ek sal leer dat God en sy bestuur ? werklikheid is. Die gebeure van die afgelope tyd en die duidelike gevolge daarvan, die swak leierskap wat ons sien en die gevolge daarvan is ? harde werklikheid. Hierdie werklikheid kan en mag ons nie ignoreer nie. Die Gees leer egter dat daar ook ? ander werklikheid is, naamlik God en sy bestuur. Mense wat dit ignoreer, is met iets gevaarlik besig (vgl. v. 7). Hulle sal redeneer dat hulle maar op die akker van die sondige natuur kan saai en hulle sal voorspoed en sukses maai; dit terwyl God dinge anders bestuur. Hy sorg dat hulle wat op dié akker saai, dood en verderf oes – nou en in die lewe hierna. Wie egter deur die Gees geleer word, weet (en ervaar) dat God in sy bestuur ? spesifieke tyd (vgl. v. 9) het wanneer Hy sal sorg dat hulle wat op die akker van die Gees gesaai het, ? heerlike oes sal insamel.
Hou daarom aan om nou op die akker van die Gees te saai.
Hoewel God die oesinsameling net op spesifieke tye gee, gee Hy elke oomblik van ons lewe as spesifieke tyd vir saai op die akker van die Gees (vgl. 10) – ook die tyd wat ons nou in Suid Afrika binnegegaan het. Nou (en altyd “nou”) is die regte tyd waarin ons gedring en gelei deur die Gees met vertroue moet bid vir verandering van mense se harte. Nou is die spesifieke tyd waarin ek nie onder beheer van vrees moet dink, praat en optree nie, maar gevul moet word met krag, liefde en selfbeheersing wat van die Gees kom (vgl. 2 Tim. 1:7). Nou is die spesifieke tyd waarin hulle wat geweld en onrus blaas, gekonfronteer moet word met lewens waarin die vrug van die Gees (vgl. 5:22) sigbaar is. Nou is die spesifieke tyd waarin mense nie die dwaasheid van die sondige natuur moet hoor nie, maar die wysheid van die Gees wanneer gelowiges leiding gee oor wat in ons land moet gebeur. Nou is die spesifieke tyd om die onderskeid wat Gód tussen mense tref, te verstaan en streng slegs volgens sy voorskrifte met hierdie onderskeid om te gaan: doen aan almal goed maar veral aan hulle wat deur die geloof my familie geword het (vgl. v. 10). Dit is nou die spesifieke tyd om aan te hou om op die akker van die Gees te saai en nie op die akker van die sondige natuur nie.