Skip to content
Menu

Lees Efesiërs 4:25-5:2 <- Klik om nou te lees Teks: vers 30 Die Gees laat geen twyfel oor wie ek is en watter voorbeeld ek moet volg nie. Die Gees laat by my geen twyfel wie ek is nie. Ons het reeds gesê dat vers 30 waarin Paulus oor die Heilige Gees handel as kern van die omliggende verse dien. Dit is omdat ons deur die Gees verseël is dat ons die waarheid praat (v. 25), ons kwaad-wees in gehoorsaamheid aan God bestuur (vv. 26-27), mense met ons woorde opbou (v. 29) bitterheid teëstaan en mense vergewe (vv. 30-31). In 5:1-2 gaan dit steeds oor die werking van die Gees. In hierdie verse word ? dieperliggende rede gegee waarom die verseëling met die Gees so kragtige uitwerking in ons lewe het. Diep binne die gelowige neem die Gees ? verwoestende twyfel weg, naamlik die twyfel oor wie ek regtig is. In die plek daarvan gee Hy heerlike sekerheid: “Ek is God se geliefde kind.” Die woord “geliefde” in 5:1 herinner aan Efesiërs 1:6 waar die Seun God se “Geliefde” genoem word. As gelowiges kan ons ons verwonder oor die intense, omvangryke en heerlike liefde tussen die Vader en sy Seun – liefde wat jy nooit in mensewoorde sal kan beskryf nie. Hoor ek egter as die Gees my verseker dat God my in die Geliefde begenadig het (vgl. 1:6) en dat ek nou God se “geliefde” kind is? Hoor ek só goed wat die Gees sê, dat ek nie my identiteit laat afhang van mense se erkenning of my suksesse nie? Die Gees laat geen twyfel oor watter voorbeeld ek moet volg nie. Soos klein kindertjies gewoonlik hulle ouers se voorbeeld volg, laat die Gees ook geen twyfel by die gelowiges Wie se voorbeeld hulle moet volg nie. Geliefde kinders van God, volg God se voorbeeld. In 5:2 word uitdruklik gesê hoe iemand se lewe sal lyk wat God se voorbeeld volg. Hy sal in liefde lewe (vgl. 5:2a). Wanneer jy in liefde lewe, sien mense in jou lewe iets van God se optrede. Hierdie lewe in liefde omspan eintlik al die sake waaroor Paulus 4:25-32 gehandel het. In liefde hou ek by die waarheid, tree ek reg op as ek kwaad word, bou ek mense met woorde op en vergewe ek. Die unieke kenmerke van ‘n lewe in liefde word in 5:2 duidelik uitgespel wanneer Christus se lewe in liefde aan ons voorgehou word. Uit dit wat in 5:2 van Christus se liefde gesê word, kan ons die volgende kenmerke uitlig: • Soos Christus is ek gewillig om my belange die minste te ag. • Soos Christus is my liefde aan ander ʼn welbewuste offer aan God. • Soos Christus is ek daarvan bewus dat my lewe in liefde vir God ʼn lieflike geur is – natuurlik nét op grond van die verdienste van Jesus Christus.