Skip to content
Menu

Lees Spreuke 28:1-14 <- Klik om nou te lees Teks: vers 1 Ek hoef nie die witvlag te hys nie. Ek is vrygespreek. My vryspraak in Christus bied innerlike geborgenheid. ʼn Baie belangrike verskil tussen die gelowige en die ongelowige word in ons teksvers na vore gebring. By die ongelowige ontbreek daar iets belangrik in die innerlike: ware geborgenheid. Hierdie gebrek is dikwels goed verskuil omdat daar baie uiterlike dinge is waarop ʼn mens kan staatmaak. As al die uiterlike krukke egter wegval, is die ongelowige weerloos. Sonder die krukke is die ongelowige uitgelewer aan homself en sy eie gewete. Dit is hierdie diepgesetelde onrus waarna die spreukedigter in ons teksvers verwys as hy sê dat die goddelose hardloop sonder dat iemand hom jaag. Wat maak die gelowige anders? Die krisisse van hierdie lewe gaan tog nie by ons verby nie? Die antwoord lê in die woord “regverdige” in ons teksvers. Regverdiges is mense wie se verhouding met God sodanig verander is dat God sy vyandskap - sy toorn – teenoor hulle verander het na liefde. Gód het hierdie groot verandering bewerk en Hy het dit alleen uit genade gedoen. In hierdie genade van God kry ʼn mens eers behoorlik insig as jy verstaan dat God se Seun mens geword het en as mens ʼn volkome regverdige lewe geleef het. As Hy egter soos ʼn misdadiger deur God verlaat word, kan God sy regverdigheid vir ons toereken. God spreek my op grond van Christus se verdienste vry van al my sondes. As gelowige ontvang ek deur die vryspraak in Christus daardie een belangrike iets wat by die ongelowige ontbreek: innerlike geborgenheid. My Skepper is nie op grond van my sonde vyandig teenoor my nie. Hy sorg in volkome liefde vir my! Ek hoef nie die witvlag te hys nie. Beteken dit dat gelowiges nooit soos die ongelowige weghardloop nie? Ons weet uit ervaring dat ons ook soms weghardloop – hensop – die witvlag hys. Soos soldate wat al die nodige wapenrusting het, maar nie weet hoe om dit te gebruik nie en dan maar oorgee, hys ons ook soms die wit vlag. Daar is verskeie redes waarom die innerlike geborgenheid wat aan my geskenk is, geen betekenis vir my het wanneer die stryd groot raak nie: i) Ek begryp nie regtig dat ek volkome regverdig verklaar is nie. ii) Ek verstaan nie wat alles verander het noudat ek in Christus regverdig verklaar is nie. iii) Ek weet dat ek regverdig verklaar is, maar ek dink dit het net betekenis vir die oordeelsdag. vi) My regverdigheid in Christus word nie sigbaar in ʼn toegewyde lewe aan God nie (ek sien dus in my lewe niks van my regverdig-wees nie en ek ondermyn dus my sekerheid oor God se liefde). Gelowiges wat egter onder leiding van die Gees erns maak met hulle regverdigheid, sal nie soos patetiese soldate terwyl hulle goeie wapenrusting het, die witvlag hys nie. Gees-driftig stryk ek die witvlae in my lewe. Onder die aandrang en leiding van die Gees moet ons begin om die witvlae in ons lewe te stryk. Gees-driftig moet ek byvoorbeeld ophou hensop vir sondige begeertes en motiewe, ou ingeburgerde sondes, louheid in my geloof en laksheid en vrese om die evangelie te verkondig. Kyk uit vir die witvlae in jou lewe, gelowige. Hulle hoort nie daar nie. Die Here verseker: die regverdige het die moed van ʼn leeu.