Skip to content
Menu

Lees Psalm 133 <- Klik om nou te lees Teks: vers 1 Reeks tema: Kom aanbid vol verwagting in eenheid met die gemeente. Preek 1: Wie in eenheid met die gemeente aanbid, mag verwagtinge koester. Inleiding: Hoekom kom ons om Sondae saam met ander gelowiges te aanbid? Kan ons nie God tuis net so goed aanbid as hier saam met ander nie? Wie so redeneer, verstaan glad nie die verwagting waarmee die gelowige mag kom om saam met ander gelowiges te kom aanbid nie. Van hierdie verwagting leer ons in Psalm 133 en ons gaan in ʼn kort reeks daaraan aandag gee. Vanoggend wys ons daarop dat wie in eenheid met die gemeente aanbid, mag verwagtinge koester. Eenheid is vir God kosbaar. Daarom mag ons saam verwagtinge koester. Psalm 133 wys terug na die ou gebruik in Israel waar die seuns ná hulle troue, saam met hulle ouers op een plek as ʼn uitgebreide familie gewoon het. Afgesien daarvan dat dit finansieel en met betrekking tot die veiligheid baie voordele ingehou het, het die familie ook in hulle eenheid gegroei (as hulle natuurlik in liefde saamgewoon het). Hierdie gebruik waar ʼn familie so in liefde saamwoon, dien in hierdie Psalm as beeld vir die eenheid wanneer die Israeliete met hulle feeste in Jerusalem kom aanbid het. In hierdie Psalm gaan dit nie oor hierdie of daardie vader wat vreugde ervaar omdat sy uitgebreide familie in liefde saamwoon nie, maar oor saam wees wat vir Gód kosbaar is. As ons weet dat ons saam-aanbid vir God kosbaar is, mag ons ook vol verwagting saam-aanbid. God maak ons een gesin en daarom mag ons sáám verwagtinge koester. Die saam aanbid van gelowiges is nie maar ʼn kunsmatige poging om iets van ʼn eenheid te bewerk nie. Met die uitgebreide familie was die saamwoon ʼn uitdrukking van ʼn werklike familieband wat bestaan het. Wanneer die digter in Psalm 133 na “broers” verwys, gaan dit ook oor werklike familiebande van mense wat nie familie was nie. Die mense wat God in sy genade aan Hom verbind het, het werklik familie van mekaar geword – broers geword. As ek God in eenheid met die gemeente kom aanbid, gee ek uitdrukking aan ʼn eenheid wat God in sy genade bewerk het. Dan mag ek met verwagtinge aanbid. In die saam aanbid laat God deur die res van die gesin sy seëning neerdaal. In die volgende preek sal ons DV in besonderhede aandag gee aan dit wat ons mag verwag wanneer ons saam met die gemeente aanbid. Kortweg kan ons dit vanoggend net God se seëninge noem. Hoekom sal God hierdie seëninge ook (dus nie uitsluitlik nie) laat neerdaal wanneer ons saam met die gemeente aanbid? In die saam aanbid, gebruik God die res van die gesin om sy seëninge te laat neerdaal. In die sekerheid waarmee my ander familielede bely, word ek begelei tot sekerheid. In die erns waarmee hulle hulle sondes bely, word ek tot selfondersoek en erkenning van skuld gelei. In die kinderlikheid van die kindertjies hoor ek hoe God my vermaan tot kinderlike afhanklikheid. In die geloofspierkrag van die bejaardes word ek aangepor tot geloofsgroei. In die sang word ek deur die ander vermaan, tot lofprysing geroep en word ou beloftes weer nuut bevestig. Ek kan vol verwagting saam met ander gelowiges God kom aanbid – Hy laat deur die res van die gesin sy seëninge op my neerdaal.