Skip to content
Menu

Lees Psalm 133 <- Klik om nou te lees Teks: vers 1 Reeks tema: Kom aanbid vol verwagting in eenheid met die gemeente. Preek 1: Wie in eenheid met die gemeente aanbid, mag verwagtinge koester (verlede week). Preek 2: Waar ons saam-aanbid, skenk God op ʼn onbeskryflike wyse sy genade. Inleiding: Verlede week het ons uit Psalm 133 aangedui dat dit in hierdie Psalm nie soseer oor die eenheid tussen gelowiges gaan nie. Dit gaan oor Israel wat vanuit die hele Judea God in Jerusalem in eenheid saam kom aanbid het. Ons het beklemtoon dat ons verwagtinge mag/moet koester wanneer ons in eenheid met die gemeente aanbid. Vanoggend wil ons die klem laat val op hierdie verwagting wat ons mag koester. In hoofsaak kan ons sê dat gelowiges God se seën sal ontvang wanneer hulle Hom saam aanbid. Dawid verwys in die gedig na Aäron en na die berg Hermon om die besondere van die genade wat God skenk as ons saambid, te verduidelik. Watter spesifieke besondersheid is daar in die genade wat God skenk wanneer ons saam aanbid? Soos die reukolie is die teenwoordigheid van God se genade onmiskenbaar. Toe die reukolie oor Aäron uitgegiet is, het God die genade wat Hy deur middel van sy hoëpriester laat bedien het, onmiskenbaar bekend gemaak. Soos die olie van bo na onder vloei en die heerlike reuk daarvan almal bereik, was elkeen onder die indruk van God se genade. Wanneer ons sondaars saam in God se genade vergader, hoe is dit moontlik dat ek nie onder die indruk kom van die onmiskenbare teenwoordigheid van God se genade wat in Christus op ons neerdaal nie? Soos die dou is God se genade onverstaanbaar. Wanneer die son genadeloos alle vog uit die land opdroog, was die wonder die volgende oggend vir die Israeliete groot as hulle merk dat alles nat is. Die vorige dag nog was alles uitgedroog en dor. Met geen wolk en reën in sig nie is die land die volgende dag as dit lig word, nat. Die besondere van God se genade is dat dit by verre nog meer onverstaanbaar is as die dou in die oggende. Dit mag jy verwag wanneer jy saam met ander gelowiges aanbid. Jy mag verwag dat jy telkens vol verwondering oor God se genade na jou gewone lewe sal teruggaan. Soos die dou by Hermon en die reukolie by Aäron is die genade in oorvloed. Die digter beklemtoon die oorvloed van God se genade. By Aäron, anders as by sy nageslag, is die reukolie in oormaat uitgegiet. Dit het afgeloop tot op die soom van sy kleed. Naby die berg Hermon was daar ook vanweë die sneeu op die top van die berg ʼn oormaat dou in die oggende. Waar gelowiges God saam aanbid, skenk God nie net sy genade nie. Hy skenk dit in oormaat. Soos die dou by Hermon is die genade lewegewend. Die dou wat in Judea geval het, was nie bloot ʼn interessante verskynsel nie. In ʼn land waar daar vir groot dele van die jaar geen reën val nie, is die dou krities belangrik. Sonder die dou, sal alle plantegroei en dan ook mense en diere uitsterf. Hulle wat begryp hoe besonderlik God sy genade uitdeel wanneer ons saam aanbid, sal ook verstaan dat God se genade lewe gee vir alle tye van ons lewe maar ook vir die tye wanneer daar “droogte” in ons lewe kom.