Lees 1 Petrus 2:1-10 <- Klik om nou te lees Teks: vers 9a Reeks tema: Reekstema: Wie is hierdie mense wat in die wêreld bekend staan as “Die Kerk”? Preek 1: Dit is vir ons die fondament wat tel! Inleiding: Daar word kort kort in die openbaar allerlei uitlatings oor “die kerk” gemaak. Baie van hierdie uitlatings laat blyk dat daar ʼn groot wanbegrip bestaan oor wie hierdie mense is wat bekend staan as “die kerk.” Die wyse waarop gelowiges dikwels reageer wanneer beskuldigings wat teenoor “die kerk” gerig word, laat blyk dat daar ook by hulle onsekerheid bestaan oor die identiteit en roeping van die kerk. In ʼn kort reeks wil ons daarom aandag gee aan die vier eretitels wat in 1 Petrus 2:9-10 vir die kerk gebruik word. Vanoggend gee ons aandag aan “ʼn uitverkore volk”. Hierdie is ʼn familie met ʼn besondere oorsprong: God se uitverkiesing. Nadat Petrus in 2:7-8 duidelik gemaak het wat sal gebeur met mense wat God se Hoeksteen verwerp, skryf hy in verse 9-10 oor dié mense wat hierdie Hoeksteen kosbaar ag. Hy noem hierdie mense eerstens ʼn “volk.” Die woord wat Petrus vir “volk” gebruik, wys eintlik op mense wat biologies met mekaar verbind is en sou met “familie” vertaal kan word. Hierdie familie het ʼn besondere oorsprong. Hulle is ʼn “uitverkore” familie. Uit die ontstaan van die “familie” Israel verstaan ons dit beter. ʼn Mens sou mooi dinge kan sê oor Jakob en sy seuns en oor Israel wat in Egipte deur swaarkry tot eenheid gevorm is. As jy egter die ware grond vir die ontstaan van die volk ignoreer (vgl. Eks. 19:6 en Jes.43:20-21), bly dit maar ʼn stukkie interessante geskiedenis soos alle ander volke hulle interessante geskiedenis het. Die diepste grond vir die ontstaan van Israel en (daarmee ook van die kerk), is God se uitverkiesing. Hierdie is ʼn familie met ʼn besondere oorsprong: God se uitverkiesing. Paulus gee twee redes waarom gelowiges met oortuiging inklusief gerig is. Eerstens wys hy daarop dat dit vir God goed en aanneemlik is dat gelowiges op alle mense gerig is en dat Hy wil hê dat alles mense tot geloof moet kom (vgl. 2:3-4). Wie eksklusief net vir gelowiges omgee, is met God self in stryd. Tweedens maak hy duidelik dat daar maar net een God is en een Middelaar tussen God en die mense, naamlik Jesus Christus. Wie dit begryp, sal weet dat mense wat nie in hierdie God glo en deur hierdie een Middelaar salig word nie, verlore sal gaan. Dit sou onverstaanbaar wees as iemand wat die enigste God en die enigste Saligmaker leer ken het, hierdie kennis eksklusief weghou van mense wat hierdie kennis nie het nie. Die besonderhede van hierdie uitverkiesing is belangrik. Petrus gee in sy brief belangrike besonderhede van hierdie uitverkiesing. Ons wil graag drie sake uitlig: • God kies in sy genade individue uit (1:1-2). • Aan hierdie uitverkorenes skenk Hy die wedergeboorte (vgl. 1:3) en heg hulle saam tot ʼn familie. • Hierdie uitverkiesing geskied in dié Uitverkorene (vgl. 2:4 en 1:3) Hierdie fondament tel! Wie die diepste grond vir die kerk se ontstaan ken, weet dat die kerk nie ʼn menslike instelling is nie. Die magte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie (vgl. Mat. 1618). By hulle wat die ontstaan van die kerk begryp, is daar egter nie net sekerheid nie, Daar is ook ʼn diepe dankbaarheid, ʼn nederigheid en ʼn ernstige begeerte tot gehoorsaamheid aan Hom wat hulle uitverkies het.