Lees 1 Petrus 2:1-10 <- Klik om nou te lees Teks: vers 9b Reeks tema: Wie is hierdie mense wat in die wêreld bekend staan as “Die Kerk”? Preek 2: Hierdie is die priesterdom van die nuwe bedeling. Inleiding: Ons het verlede week oor die eerste van die eretitels in 1 Petrus 2:9 gehandel. Vanoggend gaan dit oor die tweede eretitel, naamlik “koninklike priesterdom.” Oor die woord “koninklike” sal ons DV volgende Sondag met Nagmaal handel. Vanoggend val die klem op die feit dat Petrus die Nuwe Testamentiese Kerk ʼn priesterdom noem. Nadat God sy Hoekklip gelê het, het sy priesterdom verander. Dit wat Petrus oor die kerk in hoofstuk 2 skryf, klink baie na dit wat ons in die Ou Testament van Israel lees. Tog is daar duidelike verskille. In die nuwe bedeling lyk God se Kerk anders as in die ou bedeling. Die feit dat God in die geestelike huis wat Hy opgerig het ʼn spesifieke Hoekklip gelê het, het alles verander. Hierdie Hoekklip is Jesus Christus. Hy het as priester die volmaakte offer gebring. Ná sy offer was geen offer ter versoening van sondes meer nodig nie. Nou is daar nie meer soos in die ou bedeling ʼn spesifieke groep mense wat afgesonder is om as priesters op te tree nie. Nou is ál die gelowiges priesters en vorm hulle saam God se priesterdom. Die priesterdom bring nou saam geestelike offers. In die ou bedeling het die priesters dit wat die gelowiges gebring het (bv. ʼn lam of ʼn deel van die oes) in die tempel aan God geoffer. Gelowiges bring nou egter geestelike offers (vgl. 2:5). In vers 9 val die klem op die feit dat die gelowiges sáám ʼn priesterdom is – hulle bring sáám geestelike offers. Ons gesamentlike aanbidding, lofprysing, gehoorsaamheid aan God, liefdesbetoning aan ander, is byvoorbeeld die offers wat ons as priesterdom van God bring. Hoe ryk is Waterkloofrand aan geestelike offers? Die priesterdom tree nou anders by God vir ander in. In die Ou-Testamentiese bedeling het die priesters ʼn belangrike plek van bemiddeling tussen God en die gelowiges ingeneem. Hulle het as verteenwoordigers van óf God óf die mense opgetree. Omdat Christus as volmaakte Bemiddelaar deur God as Hoekklip gelê is, is enige poging van ʼn mens om bemiddeling ter versoening te probeer doen, totaal onvanpas. Die Nuwe Testamentiese priesterdom tree egter nog steeds vir ander in. Op grond van die verdienste van dié Middelaar, kom hulle in gebede voor God vir ander mense. Hoe toegewyd tree Waterkloofrand vir die ander mense in? Ook die onderig van die priesterdom lyk anders. ʼn Belangrike taak van die priesters van die ou bedeling was dat hulle uit die wet van Moses onderrig gegee het. Noudat Jesus Christus die volle openbaring gebring het, word alle onderrig in die lig van hierdie volle openbaring gegee. Ons onderrig nou as priesterdom mekaar en ons doen dit in sang en woord (vgl. Kol. 3:16). Saam leer ons die liefde van Christus ken (Ef. 3:18). Hierdie is ʼn koninklike priesterdom (volgende week).