Skip to content
Menu

Lees 1 Petrus 2:1-10 <- Klik om nou te lees Teks: vers 9b Reeks tema: Wie is hierdie mense wat in die wêreld bekend staan as “Die Kerk”? Preek 3: Hierdie priesterdom is innig verbind aan die Koning. . Inleiding: Ons het verlede week oor die tweede van die eretitels van die kerk in 1 Petrus 2:9 gehandel, naamlik oor “koninklike priesterdom.” Ons het egter toe die klem laat val op die woord “priesterdom.” Hierdie priesterdom is egter ʼn “koninklike” priesterdom. Vir ons wat vanoggend met Nagmaal versterk word in ons ware gemeenskap met Jesus Christus, is dit belangrik om te verstaan hoekom ons ʼn “koninklike” priesterdom is. Ons het verlede Sondag daarop gewys dat alle gelowiges in die nuwe bedeling priesters is en nie net ʼn sekere groep soos in die ou bedeling nie. Ons bring in die nuwe bedeling op ʼn besondere manier offers, tree op ʼn besondere manier vir ander gelowiges in en leer mekaar op ʼn besondere manier. Die een eienskap wat egter uitstaan in alles wat hierdie priesterdom doen, is dat die koninklike uit hulle priesterdom-wees uitstraal. Hulle is innig verbind aan die Hoekklip wat God gelê het – dié Hoekklip wat die belangrikste klip in die gebou geword het (v. 4-8). Ná sy oorwinning het God hierdie Hoekklip die Koning van alle konings gemaak. Die koninklike wat uit hierdie priesterdom uitstraal hou dus spesifiek verband met die koningskap van Jesus Christus. Sy koningskap kom in die volgende aspekte van die kerk se priesterdom-wees na vore: Sekerheid – hulle is deur die Koning geroep. Oor die kerk se roeping om ʼn priesterdom te wees, is daar geen onsekerheid nie. Hulle is deur die Koning geroep en Hý bepaal hulle roeping. Hy sê watter offers gebring moet word, hoe daar ingetree moet word en wat die inhoud is van wat hulle leer. Gesag – hulle bedien die gesag van die Koning. Hierdie priesterdom tree met gesag op - nie met hulle eie gesag of gesag wat aan hulle oorhandig is nie. Hulle bedien die gesag van die Koning. Dit is die Koning se Gees wat hulle verander dat hulle geestelike offers wil bring. Dit is die Koning self wat hulle offers vir God welgevallig maak (vgl. v. 5). As hulle as priesterdom vir ander intree, probeer hulle nie maar hulle bes om ter wille van ander om God se guns te smeek nie. Die Koning wat ook die Hoëpriester is, Hy wat Homself geoffer het en nou as Koning regeer, Hy neem hulle gebede na God. Vreesloos – hulle leef onder die beskerming van die Koning. Die wêreld vind hierdie priesterdom vreemd. Die sekerheid en die gesag waarmee hulle optree het altyd ʼn uitwerking. Soms gebruik die Koning hulle priesterskap om mense tot geloof te bring. Ander kere is daar juis by die ongelowige weersin en opstand teen die priesterdom en kom vervolging. Vanuit hulle innige verhouding met die Koning, hou hierdie priesterdom vreesloos aan om offers te bring, vir ander in te tree en te leer. Hulle leef immers onder die beskerming van die Koning.