Lees 1 Petrus 2:1-10 <- Klik om nou te lees Teks: vers 9a Reeks tema: Wie is hierdie mense wat in die wêreld bekend staan as “Die Kerk”? Preek 4: Dit is die gerigtheid wat tel! Inleiding: Ons kon met Voorbereiding, Nagmaal en Nabetragting verwonder staan terwyl ons die eretitels oordink het waarmee Petrus in 1 Petrus 2:9 die Kerk noem. Die heel eerste eretitel (uitverkore familie) het ons laat begryp dat dit die fondament is wat tel. Die laaste eretitel laat ons begryp dat daar nog iets anders is wat ook belangrik is, naamlik die gerigtheid. Hoe heerlik die eretitels ook al is wat die Here aan sy Kerk gee, die Kerk is nie self die eindpunt van alles nie. Petrus sê dat die Kerk bestaan om God se verlossingsdade te verkondig. Die kerk se gerigtheid is om te verkondig maar om baie spesifiek te verkondig. Die Kerk verkondig nie maar net nie. Die Kerk se verkondiging is spesifiek ? bekendmaking sonder twyfel – die Kerk proklameer. Die sekerheid van dit wat verkondig word, hang nie van die hoorders af nie. Hoorders wat negatief reageer, openbaar iets van hulleself, naamlik dat hulle in die duisternis verkeer. Die inhoud van hierdie verkondiging is ook baie spesifiek. Dit gaan spesifiek oor verlossingsdade en dan spesifiek verlossingsdade van Iemand. Die Verlossingsdade van God. Die Kerk bring dus nie eerstens ? waarskuwingsboodskap nie. Eerstens verkondig die Kerk ? blye boodskap – ? boodskap van God wat deur magtige dade verlossing bewerk het. Is dit ook in ons diepste wese Waterkloofrand se gerigtheid? Die Kerk is baie persoonlik in die gerigtheid op proklamering. Die Kerk is nie ? gehuurde groep mense wat ? werk op hierdie aarde het om te doen nie. Petrus sê dat God ons tot eiendom verkry het. Die woord vir “verkry” wys op “met groot opoffering verkry.” God het ons deur die kosbare bloed van sy eie Seun tot eiendom verkry. Dit verander ons tot mense wat in God se wonderbare lig verkeer. Ons herken duisternis, as ons dit sien. Ons herken mense wat in die duisternis verkeer as ons hulle sien. Ons was self daar! Vir ons is dit ? persoonlike saak. Soos God se wonderdade in die Hosea se verhouding met die prostituut duidelik geblyk het, weet ons het sy wonderdade ook in ons elkeen se lewe plaasgevind. Ons wat geen volk was nie, het nou volk geword. Ons wat geen ontferming verdien het nie, het nou ontferming ontvang. Gedring deur persoonlike liefde en dankbaarheid, verkondig ons. Die duisternis waarin die ongelowige verkeer, is nou ons saak, want dit raak die God Wie se volk ons is. Hoe persoonlik is ons in ons gerigtheid op proklamering?