Lees Efesiërs 3:14-21 <- Klik om nou te lees Teks: vers 20-21 Die kerk is die werkplek van God waar sy lof die helderste opklink. Inleiding: Noudat die winter verby is en die plante begin ontwaak, hoor hulle met ʼn geloofsoor die loflied van die skepping wat die Skepper prys. Ons hoor hierdie loflied ook as ons ʼn oomblik tot stilstand kom en na die sterre of die res van die skepping kyk. Daar is egter ʼn ander lofprysing wat van hierdie aarde af opstyg wat ons nie altyd so goed hoor nie – ʼn lofprysing kragtiger en helderder as die lof van die res van die skepping. Oor hierdie lofprysing skryf Paulus in ons teksvers. Vanaf God se werkplek, die kerk, klink lof op na Hom. Uit Efesiërs 1-3 is dit duidelik hoe wonderbaarlik God sy werk op aarde in die kerk ontplooi het, byvoorbeeld dat God dié mense wat Hy uitverkies het (1:4-6), lewend gemaak het (2:1-10) en aan hulle vrede en toegang tot Hom gegee het (2:11-18). In 3:20-21 beklemtoon Paulus dat daar vanaf hierdie werkplek lof na God opklink. In dit wat die kerk ís (ná God se werk), styg die lof na God op. Hierdie lof, sê hy, klink deur die geslagte op. Deur die eeue, geslag vir geslag styg vanaf die kerk lof na God op. Ons is tans die werkplek waarvandaan die lof na God gaan en ná ons sal dit voortgaan tot met die wederkoms. Ná die wederkoms sal daar nie meer nuwe geslagte wees nie, maar die lofprysing sal nie ophou nie; dit sal voortgaan “tot in ewigheid” (v. 21c). Die lofprysing wat vanaf die kerk na God opklink, is ten nouste verbind aan Iemand. Sonder hierdie Iemand, sal geen lofprysing na God opklink nie. Net in die verbondenheid met Jesus Christus is lof vanaf die kerk moontlik. In die Hoof (Jesus Christus), word die liggaam (die kerk) ʼn loflied tot God. In hulle innige verbondenheid met Hom, hulle Verlosser en Heiligmaker en deur sy intrede vir hulle by die Vader styg daar in hulle bestaan hier op aarde heldere lof op na God. Net hulle wat geloofsoë het, sien ʼn kerk wat vir God welbehaaglik is. Net hulle wat geloofsore het, hoor die loflied wat van die kerk af opklink. Die loflied wat na God opstyg is ʼn lied oor mag. Uit vers 20 is dit duidelik wat die inhoud van die lofprysing is wat vanaf die kerk opklink. Dit is ʼn lied oor vermoë – God se vermoë. Wie na God se kerk kyk en verstaan wat God gedoen het, sal die loflied van God se vermoë hoor. Hulle sal hoor dat God kan doen wat ons “bid.” Hy kan selfs doen wat ons nie die moed het om te bid nie, maar net oor kan “dink”. Hy kan selfs “meer” doen as wat ons oor bid en dink. Hy kan “oorvloedig” meer doen as wat ons kan bid of dink. Hy kan “oneindig” meer doen as wat ons kan bid of dink (vgl. v. 20). Wie met die geloofsoor luister, sal nog iets anders ook hoor. God het nie net in die verlede met hierdie krag van Hom in die kerk gewerk nie. Hy werk ook in die hede in ons, sê Paulus. God se onmeetbare krag word elke dag helder sigbaar in die kerk. Wanneer ek sien hoe mense tot geloof kom, hoe gelowiges in die geloof volhard, hoe hulle God vertrou en dien, hoe hulle, wanneer hulle in sonde gestruikel het, berou het en tot God bekeer, hoor ek ʼn loflied wat van God se werkplek na hom opklink.