Lees Openbaring 11 <- Klik om nou te lees Teks: vers 1-2 Dit is alleen God se mense wat deel het aan Hom en aan mekaar. Inleiding: Die afgelope maande het ons in die preke baie klem gelê op die gemeenskap van die gelowiges. Ons moet egter begryp dat daar mense is wat dink dat hulle deel aan die gemeenskap van die gelowiges, maar wat geen deel daaraan het nie. Hulle vorm eintlik deel van die strikke van die Bose. God trek die grenslyne duidelik. Volgens die gesig van Openbaring 11 moet Johannes opstaan, die maatstok wat aan hom gegee word, neem en die tempel afmeet. Dit is duidelik dat die woord “tempel” nie na ʼn gebou verwys nie, maar na ʼn groep mense. Hierdie mense ontvang van God spesiale aandag – hulle word afgemeet. In die gesig is daar egter ook van die “voorhof” en van die “heilige stad” sprake. Dit dui op twee verdere groepe. Hulle is op een of ander manier met die eerste groep verbind – soos die stad en die voorhof verbind was met die tempel. God laat hulle egter afgrens van die eerste groep. Johannes mag die “voorhof” en die “heilige” stad nie afmeet nie. Die “heilige stad”-mense is buite die grens. In die ou bedeling kon mense sê dat God op ʼn besondere manier in Jerusalem woon, naamlik in die tempel in die stad. Wie in die stad woon, het geweet dat dit die “heilige stad” is, die stad waar God woon. Maar daar was ook mense wat in die heilige stad gewoon het, maar wat nie na die tempel toe sou gaan nie. Hulle het geen erg gehad aan offers en aan aanbidding nie. Hulle is gereken as inwoners van die heilige stad maar was nie aan die Heilige van die stad verbind nie. Ook in die nuwe bedeling, is daar mense wat graag deel wil wees van die Christendom en hulleself op ʼn manier nog as Christene beskou, maar wat die kernsake van Christen wees, verloën. Hierdie mense is nie Christene nie. Die “heilige stad”-mense val buite die grens. Hulle is mense aan wie die ware evangelie verkondig moet word. Ook die “voorhof-mense” is buite die grens. Wanneer iemand na die tempel toe sou gaan, moes hy eers die voorhof betree voor hy in die tempel kon ingaan. Tussen die voorhof en die tempel was ʼn waarskuwing opgerig vir mense wat nie deel was van God se volk nie. As hulle die tempel sou ingaan, sou hulle doodgemaak word. Daar was dus mense wat die tempelterrein betree het, maar nie ingegaan het in die tempel nie. Ook met die Nuwe-Testamentiese tempel is dit so. Daar is mense wat bekendstaan as Christene en saam met gelowiges aanbid, maar wat nie werklik deel is van die Nuwe-Testamentiese tempel nie. Dit is die naamchristene. Hulle gerustheid dat hulle deel is van die volk van God, laat hulle voortleef in doodsheid. Van gelowiges sou dit liefdeloos wees om met hulle volle gemeenskap te beoefen en so hulle doodsheid voor God te verbloem. Die “tempel-mense” is deur God afgemeet. Van die mense wat wel afgemeet moes word, word twee belangrike sake gesê. Eerstens word hulle die tempel van God genoem. Dit is die mense wat God sy eiendom gemaak het. Hy het hulle deur sy Seun verlos en ingebring onder sy beskerming. In die ou bedeling het God sy teenwoordigheid op ʼn besondere manier geopenbaar deur sy inwoning in die tempel. In die nuwe bedeling woon Hy ook in sy tempel, maar nou is die verlostes sy tempel en deur sy Heilige Gees woon Hy in hulle. Die tweede saak wat van hulle genoem word, is dat hulle God aanbid (vgl. ook “wierookaltaar”). Hulle is biddende en aan-biddende mense. Hulle buig in nederigheid voor God. Hierdie is die mense wat God afgemeet het. Hulle behoort aan Hom en hulle mag reken op sy beskerming.